General

Skouprogram het iets vir almal

THABAZIMBI – Die Landbouskou se program is vol opwinding en vermaak en beloof om iets te hê vir almal. Volgende Woensdagaand 3 Augustus word die veevertoners funksie reeds aangebied om al hierdie uitstallers te verwelkom.
Donderdag open die hekke om 07:00 en toegang beloop R15 per volwassene en R10 per kind. Die Landbouskou se president, mnr Sietze Smit sal die verwelkoming en openingsboodskap behartig. Die vee-beoordeling begin reeds om 09:00 en die diere kan deurlopend besigtig word.
Teen 16:30 sal toeskouers vermaak word deur Creare wat op die verhoog gaan optree. Om 18:00 sal die kroningskompetisie begin met ‘Lourens’ as gaskunstenaar. Crazy George en Rivo-toneelgroep se ‘skoukoors’ gaan ook vermaak bring.
Vanjaar se Landbou- en Nywerheid demonstrasies beloof om die grootste in 51 jaar te wees. Dit is uit monde van Johan du Toit wat die uitstallers organiseer en reël. Deurlopende vermaak vir die kinders sal ‘n spookhuis, mallemeule, glybaan, gladiatorbaan, Simba, Mimiek, go carts en vierwiel motorfietse insluit.
Vrydag 5 Augustus is daar om 09:30 ‘n beeshanteerder kompetisie in die arena. Dit sal opgevolg word deur individuele Interraskampioenskappe en om 11:00 vind die massa veeparade en prysuitdeling plaas.
Trompoppies, ‘n gimnastiek- en skopboks vertoning sal van die vermaak wees wat vanaf 14:30 by die arena te sien sal wees. Klopjag sal vanaf 18:30 tot 21:00 op die hoofverhoog in aksie wees.
Die gewilde vlakvark fietswedren vind Saterdagoggend om 07:30 plaas en inskrywings  stroom in. Omstreeks 08:00 kan die perdeliefhebbers hulle reg maak vir ‘n uitstekende vertoning by die arena. Vanaf 09:30 tot 12:00 kom die baba- en kleuterkompetisie aan die beurt met ‘Alice’ as gaskunstenaar.
Die Landbou-Idols sal vanaf 12:00 tot 15:00 beoordeel word en groot pryse is op die spel. En as jy deur die Idols opgewarm is, is jy net betyds om 15:00 in die biertuin aan te sluit vir die regstreekse uitsending van die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks (en as Australië die afgelope naweek oorbluf was met die Springbokke se ‘performance’ het hierdie Nieu-Seelanders nie ‘n idee wat op hulle wag nie).
Die wenners van die braaivleiskompetisie sal om 17:00 aangekondig word en vanjaar se skou sal afsluit met ‘n dans in die Markiestent wat aangebied word deur Crazy George.