Rooivleisprodusente beraadslag
Die volhoubare inskakeling van vee by ‘n saaiboerdery moet met baie groot omsigtigheid gedoen word. Produsente moet deeglik besef dat diversifisering ‘n medium-langtermyn proses is en dat die voordele daarvan nie onmiddelik behaal word nie, sê Lardus van Zyl, voorsitter van die Noordwes Rooivleisprodusente-Organisasie (NWRPO).
Die realiteit is dat saaiboere tans op ‘n redelike groot skaal privaat voerkrale bedryf om vee met die huidige goedkoop mielies af te rond. Dit is egter belangrik dat die bemarking van hierdie vee deeglik verdiskonteer moet word, sodat ‘n moontlike oorskot diere wat gelyktydig in die mark beland, nie die prys totaal verwring nie.
Die NWRPO hou op 11 Augustus ‘n Inligtingsdag te Buisfontein Safari Lodge, Wolmaranstad met die tema “Die volhoubare integrering van die rooivleis en graanbedrywe”. Uitgelese sprekers waaronder dr Johan Willemse en prof André Jooste asook Johan Mouton, sal produsente tydens hierdie geleentheid toelig oor wenke vir die volhoubare inskakeling van vee by ‘n saaiboerdery, asook om hulle op die slaggate van so ‘n proses te wys.
Alle produsente word uitgenooi om hierdie geleentheid by te woon. Navrae in hierdie verband kan gerig word aan die NWRPO se hoofkantoor by (018) 632 3612.