General

Nuwe bloedlyn waghonde vir kleinvee

THABAZIMBI – Die konsep om honde te gebruik om lewende hawe te beskerm is nie nuut nie, trouens in Turkye word die Anatoliaanse wolf al vir die laaste 6000 jaar as kudde waghond gebruik.
Die Anatoliaan is spesifiek geteel om kleinvee teen wolwe en bere te beskerm.
In Namibië beskerm die Anatoliaan die kleinvee teen ‘n verskeidenheid roofdiere, waarvan die jagluiperd een is.
Die Cheetah Conservation Fund teel en lei die diere op vir dié doel.
Weens die goeie sukses wat behaal is, is ‘n proefprogram geloods deur NCMP om die “Anatolian Shepherd” in Suid-Afrika aan die boere bekend te stel.
Piet Strydom, wat op Rooidam met boerbokke boer, en reeds ‘n skaaphondkruising by sy bokke opgelei het, was so gelukkig om so ‘n hondjie deur De Wildt Cheetah and Wildlife Trust te bekom.
Boleyn, ‘n opregte Anatoliaanse teef, is geteel deur die Cheetah Outreach personeel in die Kaap, ook medeborge saam met De Wildt. Sy is nou slegs drie maande oud, maar gaan reeds saam met die bokke veld toe.
Die rede hoekom die Anatoliaan getoets word, is omdat jagluiperds beskermde diere is. Wanneer hulle onder kleinvee begin maai, sal die boer die jagluiperd of skiet of vang.
Die Anatolian sal nie soos die gewone skaaphond die kleinvee tydens probleme aankeer nie, wat veroorsaak dat die luiperd die vee makliker kan vang. Die Anatoliaan sal die luiperd of rooikat aanval en selfs doodbyt as die roofdier nie vlug nie.