Gholfnuus
THABAZIMBI – Met die kanselasie van die dames van Limpopo moes daar inderhaas ander reëlings getref word. Daar is toe IPS gespeel en die opkoms was nogal redelik. Pietie Terblanche (36), Willem du Plessis (35) en Piet Venter (34) was die wenners.
Sondag was die eerste lopie van die Sondag Sundowner ook redelik ondersteun. Die wenners hier was Chris Bronkhorst. Lede kan gerus hierdie poging ook ondersteun.
Daar is reeds vure vanaf twaalfuur beskikbaar as u voor ‘n spel wil braai en gesellig saamkuier. Daar kan ook eers gholf gespeel en dan gebraai word. Die kroeg sluit om 18:00. Hierdie kompetisie gaan voorlopig een keer per maand aangebied word.
Verlede Vrydag het leerlinge van die Hoërskool op Ellisras aan die Interskole gholftoernooi deelgeneem en derde geeïndig. Die manne wat Sondag, 31 Julie op Lost City se baan liga gaan speel is Jannie van Graan, Jacob Jordaan, Piet Venter, Jakkie van der Wateren, Jan-Floris van der Wateren, John-Henry Williams, Toppie Olivier en Denis Dreyer. Die volgende manne is in die Veterane span opgeneem: Hans Human, Chris Bronkhorst, Nico van der Westhuizen en Johan Prinsloo.
Op Vrydag, 29 Julie is dit weer Interaksie Gholf en daar is tans ‘n paar van die gereelde spanne wat mekaar goed opdreun. Saterdag, 30 Julie is dit die Diakonie van die Gereformeerde Kerk wat ‘n borgdag aanbied. Daar is talle wildspryse en spelers kan gerus inskryf.
Die Algemene Jaarvergadering se datum is verskuif na Woensdag, 17 Augustus na die Sundowner. Daar is nominasievorms by die klub beskikbaar indien u iemand wil nomineer vir die komitee. Besprekingspunte moet ook so gou as moontlik ingedien word, voor 3 Augustus.
Saterdag, 3 September gaan ‘n groot borgdag wees ter viering van die klub se veertigjarige bestaan. Die wat nog kontak het met van die oud-lede wat verhuis het, kan hulle gerus uitnooi. Bedankings is teenoor Piet en Riaan Vorster uitgespreek vir die grond wat deur hulle aangery is vir die gelykmaak van die bowwe.