Braaivleis kompetisie al wyd bekend
THABAZIMBI – Die Bosveld Braaikompetisie wat Saterdag, 6 Augustus by die skou plaasvind, is al wyd bekend onder die bosveld inwoners. Deelnemers doen baie moeite met die voorbereiding van hul stalletjie en bale en tafels word reeds van vroegdag af aangery.
Die reeds berugte “Madottas” het in die laaste paar jaar vir groot neederlae gesorg onder die ander spanne. Die deelnemers is egter vanjaar vol moed dat hulle hiérdie keer die gewilde span kan oorwin.
Daar word gegis en gesif en almal is aan die voorberei, onder groot geheimhouding natuurlik, oor wie die beste gereg gaan voorsit. Met die Madottas as onoorwonne kampioene, word daar vanjaar nog meer gespook om die gesogte trofee huistoe te vat. Dit is presies wat hierdie braaivleiskompetisie die afgelope jare so gewild gemaak het – die spangees onder die bosvelders.
‘n Maksimum van vier lede per span word toegelaat. Spanne moet hul eie braaiers, hout, braaibenodighede, vleise, bykosse en kampie voorsien. Die kompetisie sal amptelik om 12:00 begin en beoordeling sal deurlopend geskied. Die prysuitdeling vind om 16:30 plaas.
Beoordeling geskied na aanleiding van voorbereiding, gaarmaak en opdien saam met bykosse. Alle geregte moet by die terrein gaargemaak word – behalwe enige brood. Navrae en inskrywingsvorms is by die skoukantoor beskikbaar en hulle kan gekontak word by (014) 777-1204/6. Inskrywingsvorms moet ingehandig word by die skoukantoor voor of op Vrydag, 29 Julie.