Saak teen Eden lid teruggetrek
Die saak van beweerde roekelose bestuur asook vir die beweerde verontagsaming van ‘n verkeersteken teen Jay (Jaco) du Plessis van die popgroep Eden, is op meriete algeheel deur die staat teruggetrek nadat hy op 13 Junie 2005 in die hof in Middelburg op die klagte verskyn het.
Die klagtes teen hom kom nadat die groep Eden op 22 Mei in Middelburg opgetree het. Jay is in Middelburg se hoofstraat in hegtenis geneem en het ‘n paar uur in die polisieselle deurgebring. Hy is toe op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Op 23 Mei 2005 het Jay ‘n klag by die Middelburg polisie ingedien. Die klag wat ingedien is, was teen twee lede van die Middelburg polisiekantoor wat die aand van 22 Mei 2005 aan diens was. Hulle word aangekla van aanranding en intimidasie toe hulle hom na bewering teen die kop geslaan, teen die vangwa vasgedruk en hom gevloek het.
Hy het ook ‘n strafregtelike saak gemaak teen die Middelburg Observer wat wederregtelik foto’s van hom in die polisie aanklagkantoor en in die hof geneem en dit ook wederregtelik geplaas het. Beide hierdie sake gaan voort.