General

Noodsaaklike bemagtiging vir produsente

Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het sy dank teenoor die organiseerders en aanbieders uitgespreek na die geslaagde Media Opleidings werkswinkel wat vir lede van die TLU-SA aangebied was.
Mnr Dries Joubert het gesê dat dit noodsaaklik is vir alle lede van TLU-SA om met selfvertroue met die media te skakel. Hy het gesê dat die opleiding slegs die begin is van ‘n proses om lede te bemagtig.
Mnr Francois du Toit, wat as voorsitter opgetree het, het gesê dat die media ‘n geweldige belangrike rol in die komplekse moderne samelewing speel. Hy het gesê TLU-SA se doelwit is om produsente ekonomies volhoubaar in veiligheid op hulle plase te laat boer. Om dit te doen moet alle hulpmiddele, soos die media, gebruik word. Hy het gesê strategiese beplanning is ‘n noodsaaklike instrument wat, net soos ander instrumente, effektief aangewend moet word. Hy het gesê dat TLU-SA Noordstreek ‘n Media Komitee gaan saamstel wat verantwoordelik sal wees om navorsing te doen en media verwante aspekte van die strategiese plan saam te stel.
Die eerste aanbieding van die dag het gehandel oor die aspekte in die Aksieplanne vir 2005 wat spesifiek met die media te doen het. Bemarking ekstern identifiseer aksies wat nuus uitreikings en kontak met die media raak. Bemarking intern raak die verspreiding van inligting binne TLU-SA Noordstreek. Daar is gekyk na maniere om nuwe lede te werf en skep van media geleenthede. Elke lid wat die opleiding bygewoon het, is uitgedaag om binne vier weke ten minste een persverklaring uit te reik.
Mnr Eben Burger, befaamde joernalis van die jong en dinamiese koerant, Die Informant, het die onderwerp, “Wat is nuus” hanteer. Hy het beklemtoon dat nuus onmiddellik is, dat dit ‘n hoogs bederfbare item is wat nie ‘n lang raklewe het nie. Hy het die deelnemers herinner dat koerante ‘n sakeonderneming is. Hy het gesê dat organisasies soos die TLU-SA nie eise kan stel aan koerante nie omdat daar nie betaal word vir die plasing van artikels nie. Hy het verder gesê dat persverklarings so uitgereik moet word dat dit die grootste aantal mense trek en dat die verklaring uit die volgende vrae moet bestaan: wie, waar, wanneer, wat en waarom. Hy het afgesluit deur te sê dat die koerant ‘n gas in mense se huis is en dat die wat persverklarings uitreik, dit in gedagte moet hou.
Mnr Buks Barnard, bekwame joernalis wat by die Pro-Agri tydskrif werksaam is en ook by Solidariteit betrokke is, het gesê dat daar drie belangrike woorde is: kommunikasie, kommunikasie en kommunikasie. Hy het gesê dat elke struktuur met die media op sy eie vlak kan praat, maar alle strukture moet uit een mond praat. Hy het goeie beplanning beklemtoon en gesê dit is belangrik om lae intensiteit kontak oor ‘n lang termyn met joernaliste op te bou.
Mnr Joubert het die twee joernaliste bedank vir hulle waardevolle insette. Hy het gesê die opleiding is slegs die begin en daar sal nog baie meer gedoen moet word sodat TLU-SA lede die volle potensiaal van die media kan ontgin.