Landbouskou nuus
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Landbouskou word vanaf 4 tot 6 Augustus aangebied.
Die skou word vanjaar ‘n nuwe baadjie aangetrek met die hoofverhoog wat reeds Vrydagaand 5 Augustus vir groot vermaak onder die jongmense gaan sorg met ‘n twee en ‘n halfuur vertoning van Klopjag.
In die verlede was al die vermaak in die Trollope saal, maar vanjaar word dit geskuif na die buite arena. Daar sal groot mark tente vir so bietjie beskerming teen die koue wees. ‘n Groot ‘stage’ soos nog nie voorheen by die skou gesien nie, gaan vanjaar vir groot aftrek sorg. Die alombekende ‘Crazy George Productions’ se klank toerusting gaan oor die hele Thabazimbi gehoor kan word.
Die kroning van Mnr en Mej Thabazimbi kompetisie word gereël deur Peter de Beer en Hannes Coetzee van Thaba Spar. Inskrywingsvorms kan by Thaba Spar afgehaal word.
Die babakompetisie word deur Kodak Thabazimbi gereël en inskrywings en reëls van die kompetisie is by hulle beskikbaar.
Die Trollope saal sal vanjaar dien vir die uitstalling van 4×4 voertuie en kampeertoerusting. Die Landbou en Nywerheid tema sal voorgang geniet vir plaaslike uitstallers soos houtmeubels, eetgoed, handgemaakte items en so meer.
Kosstalletjies, reuse glybaan, “go-carts, malemeule, perdespring, Gymkana, gimnastiek-, kickboxing- en perdevertoning is van die aktiwiteite wat vanjaar te sien gaan wees. Plaaslike kunstenaars gaan ook die geleentheid gegee word om op Saterdag 6 Augustus, op die verhoog op te tree. Hou Die Kwêvoël dop vir verdere besonderhede in die verband.
Daar sal twee ‘big screen’ TV’s op die terrein aangebring word, een in die arena en een in die biertent, waar die wedstryd tussen die All Blacks en die Springbokke te sien sal wees. Na afloop van die rugby, gaan die braaivleiskompetisie weer sorg vir baie pret. Dié kompetisie word gereël deur Thabazimbi Delta en inskrywingsvorms kan by hulle afgehaal word. Vir die vlakvark fietswedren kan inskrywings by Thaba Besproeiings afgehaal word.
Die Brahman Limpopo Kampioenskappe vind tydens die skou plaas en die beeste sal vanjaar tot Saterdag 6 Augustus te sien wees. Die bees beoordeling sal reeds Donderdag 4 Augustus plaasvind.
‘n Groot nywerheidsuitstalling gaan op besoekers wag met trekkers, trokke, stropers, pompe en nog vele meer. Daar word ook beplan om die toerisme bedryf te betrek deur lodges en gastehuise in die omgewing die kans te gun om uit te stal. Belangstellendes kan die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidsgenootskap kontak by (014) 777 1204.