Sport

Gholfnuus

THABAZIMBI – Die ENB borgdag wat verlede Saterdag sou plaasvind moes ongelukkig uitgestel word weens die afsterwe van Kobus Jacobs se skoonvader. Die Gholfklub komitee en al sy lede betuig hul innige simpatie met die familie.
In die plek van die borgdag is daar ‘n viertal Alliansie gespeel waar daar twee tellings oor die eerste 6 putjies, drie tellings oor die tweede ses putjies en drie tellings oor die derde ses putjies getel het. Johan Smit, Pietie Terblanche en Chris en Jeanetta Rall se vierbal teken 115 punte aan.
Piet Venter, Derek Torlage, Jakkie en Jan-Floris van der Wateren was tweede met 114 punte. Alta Venter, Marina van der Wateren, Corlia Williams en Annarie Jordaan was derde met 106 punte. ‘n Nuwe datum vir ENB borgdag sal later aangekondig word.
Daar is verskeie kompetisies in Gauteng Noord en Limpopo waaraan van die lede kan deelneem indien hulle sou belangstel. Op 7 Augustus is daar ‘n Gemengde Ope op die Monumentpark-baan. Vanaf 29 tot 31 Julie is dit die Ope Slagspel Kampioenskappe op die Pietersburg gholfbaan.
Gauteng Noord se geslote Foursomes kampioenskap word op 14 Augustus op die Wingate-baan gespeel en op 3 en 4 September word die Gauteng Noord Senior Amateur Kampioenskap op die Centurion-baan gespeel. Inskrywingsvorms is by die klub beskikbaar vir belangstellendes. Juniors wat belang stel om by die Junior Golf Foundation aan te sluit kan ook vorms by die klub kry.
‘n Plaaslike reël agterop die telkaarte is dalk nie duidelik genoeg nie. Daar is verligting van die skade wat grawende diere (burrowing animals) op enige plek op die baan veroorsaak het. Dit geld veral die skade wat vlakvarke en tot ‘n mate ook bobbejane veroorsaak op die soek na kos. Sien reël 25.
Die Limpopo Dames Ope Kampioenskappe wat Saterdag, 23 Julie by die plaaslike bane gespeel sou word, is Woensdagoggend gekanselleer en die baan sal dus oop wees vir spel.