Ernstige waarskuwing aan publiek
THABAZIMBI – Die plaaslike speurtak het ‘n ernstige waarskuwing aan die publiek gerig om op die uitkyk te wees vir enige verdagte voertuig of -persone. Dit volg na ‘n vlaag huisbrake die afgelope Sondagnag.
Daar is by Loerielaan 8 ingebreek en die eienaar se motorsleutels is gebuit. Hulle het ook met sy wynrooi Toyota dubbelkajuit op die vlug geslaan. Die bakkie het egter ‘n opsporingstelsel ingehad en is teruggevind in Alexandra, Gauteng. Volgens die eienaar is daar nie deure oopgeforseer nie en het die verdagtes ‘n loper sleutel gebruik om sy huis te betree.
In Daffodil- en Vanderbijlstraat is honde vergiftig voor die inbrake plaasgevind het. Temic word met boeliebief gemeng en in vensterbanke gelaat waar honde wat in die huis slaap, dit kan bykom. By Hibuscusstraat is ook ingebreek terwyl die inwoners geslaap het en drie bosse motorsleutels is gebuit. Daar is Dinsdagoggend om 03:00 ook by Byekorf Sekuriteitsoord ingebreek.
Die plaaslike speurhoof, kaptein Sakkie Louwrens sê dat inwoners alle vensters dig moet toemaak aangesien die moontlikheid van gasgebruik by inbrake, nie uitgesluit is nie. Hy maan ook die publiek om dringend lopers of polisiemanne in hul deure aan te bring aangesien vermoed word dat die sleutels wat by die inbrake gebuit word, weer gebruik word om by ander huise toegang te verkry. Kaptein Louwrens het ook gevra dat die publiek alarm moet maak die oomblik wat hul honde blaf of onrustig voorkom. Indien enige vreemde persone of voertuie opgemerk word, moet die polisie onmiddellik inkennis gestel word.
Kaptein Louwrens is veral bekommerd oor die verdagtes se arrogante houding deur die huise te betree waar die inwoners teenwoordig is. Konfrontasie kan ‘n baie gevaarlike situasie skep en hy maan alle eienaars om uiters versigtig te wees.
Indien u oor enige inligting beskik wat die polisie van hulp kan wees, kan kaptein Louwrens gekontak word by (014) 777 3535 of 082 565 7939.