General

Onaktiewe kommando’s lei tot hoë misdaad

Toenames in wilddiefstal, misdaad en gewapende roof het in sommige gebiede met tot 100% toegeneem sedert die kommando’s onaktief geraak het. Wilddiefstal en –slagting het baie vererger, maar boere moet hul aandag toespits op die beveiliging van hul gesinne en nie meer hul diere nie.
Politieke praatjies gee voor dat alles wel is in die landbou, maar boere in die Limpopo Provinsie wat erg onder misdaad deurloop, stem nie saam nie. Volgens boere is misdaad in die Hoedspruit omgewing blatante terrorisme en word daar groot probleme verwag.
Wildstropers in die gebied is besig met slagting nadat wildstropers die afgelope ses maande met mening toegeslaan het. Boere in dié omgewing waag dit nie meer veld toe sonder koëlvaste baadjies nie en werkers is bang om hul werk te doen.
Hierdie wildstropers het ‘n luiperd, leeu, renosters, wildehonde en skaars boksoorte as prooi gestel en hulle jag in groepe met goed opgeleide honde en AK47 gewere. In die afgelope ses maande is daar reeds meer as 1200 stuks wild in die Hoedspruit omgewing afgemaai en volgens boere is dit sindikate van elders wat hier bedrywig is. Dit wil voorkom asof hierdie wild op bestelling gesteel word.
Die skade wat boere in hierdie omgewing lei, beloop tot R5 miljoen per jaar en sommige boere bestee reeds tot R25 000 per maand aan die beveiliging van hul plase. Die wildboer van 2004, mnr Piet Warren, is besig om van sy renosters ontslae te raak nadat wilddiewe twee van sy renosters in die horings geskiet het. In die Hoedspruit omgewing is daar reeds drie renosters afgemaai.
Die SAPD op Hoedspruit vermoed saam met boere dat sindikate die sondebokke is wat vir hierdie vlaag misdaad verantwoordelik is. ‘n Gesamentlike aksie gaan deur die SAPD, SA Nasionale Weermag, natuurbewaring en die boere geloods word om hierdie probleem te probeer stopsit.