Wes Voere se Corn Time wen Mogol Victrix Ludorum
ELLISRAS – Geskiedenis is gemaak by die afgelope Ellisras Bosveldfees waar die Mogol Skouspring hul eerste Sierspringvertoning aangebied het. Die organiseerder, Marle Pretorius, het ‘n goeie vertoning gelewer wat aan die streng Transvaal Horse Society (THS) standaarde voldoen.
Die baanuitleg is deur Dirk van Jaarsveld van Gauteng gedoen en het beide ruiter en perd se vaardighede getoets. Die skou het ruiters van so ver as Tzaneen, Phalaborwa en Thabazimbi gelok.
Beoordeling is deur Anina Haasbroek, ook van Gauteng, gedoen en sy het gesorg dat dit streng volgens THS standaarde geskied. Thabazimbi se ruiters het hul slag gewys deur ‘n hele paar prestasies in te palm.
Monica Willats op Wes Voere se spogperd, Corn Time, was die wenner van die “Adult E&D Grade handicap Precision & Speed” afdeling en verower ook die kampioenskap titel.
Suzette de Villiers en haar nuwe perd, Black Velvet, wen die “JF Speed & Precision” afdeling en behaal ‘n plek in die “Welcome Strokes & Accumulator” afdeling.
Melissa de Beer en haar pragtige perd, Fluorescent Tube, was die wenners van die “Speed & Precision” afdeling in haar kategorie en behaal ‘n tweede- en derdeplek in die ander afdelings.
In die kinderafdeling het Zahne Bezuidenhout op haar ponie die “CE Championship” gewen terwyl Anda Lee die “CE Accumulator” gewen het.