Veiligheid in Suid-Afrika
Volgens die president van TLU-SA, Paul van der Walt grens die plaasaanvalle van die afgelope tyd aan terrorisme. Daar kan tereg gevra word wat die verskil is tussen ‘n bom wat ‘n gemeenskap soos in Londen ruk of destyds in Kerkstraat en die sinnelose doodmaak van ‘n plaasboer en sy afhanklikes.
Die ingrepe in die makro-omgewing in vergeleke met dié in die mikro-omgewing, is nie veel verskillend nie. Op die plaas is die bykomende realiteit daar dat in baie gevalle die totale ekonomie op die plaas in duie stort met rampspoedige gevolge vir alle rolspelers wat die arbeid noodwendig insluit.
Vele van hierdie aanvalle word teen weerlose senior burgers gevoer wat elke dag hul afsloof om te help om voedsel en vesel op Suid-Afrika se tafels te sit. Die regering het hul sterk uitgespreek oor die waansinnige daad in Londen, maar word daar skaars ‘n woord deur hierdie woordvoerders gehoor oor die misdaad en dan spesifiek die plaasaanvalle in Suid-Afrika.
Dit bly ‘n regering se eerste verantwoordelikheid om na die veiligheid van die inwoners van sy eie land om te sien. Al hoe meer inwoners, swart en wit, het die oortuiging dat die regering klaaglik hierin faal. Van der Walt het gemeld dat die politici dalk meer tyd aan Suid-Afrika en sy veiligheidsprobleme moet skenk en minder oorsee rond kerjakker.