Uile kan muisplaag beheer
Die muisplaag wat reeds vir weke, selfs langer, die omgewing teister, kan doeltreffend deur uile beheer word. Die pad tussen Amandelbult en Northam is spierwit soos voertuie die muise trap wat oor die pad beweeg.
Muise teel vinnig aan en kan in een nag tot 4 kilometer beweeg. Dié plaag kan egter biologies beheer word indien boere hokke vir nonnetjie-uile op hul plase oprig. Hierdie metode word reeds sedert die 19de eeu met groot welslae toegepas.
Vier jaar gelede het mnr Quartus Laubscher, ‘n boer van die plaas Cloeteskraal naby Hopefield in die Sandveld, sy eerste uil hokke opgerig en spog reeds met 60 volwasse uile op sy plaas. Die nonnetjie-uil is ‘n spesialismuisvanger wat feitlik oor die hele Suid-Afrika voorkom. Enige plek waar muise ‘n las is, kan hierdie uile die probleem oplos. Hierdie uile vang normaalweg ongeveer twee muise per dag, maar vangste van 32 muise per dag is al aangeteken waar daar kuikens in ‘n nes is. 60 Uile kan dus 43 800 muise per jaar vang en al klink dit baie, is dit nie naastenby genoeg om die muisplaag in Cloeteskraal te beheer nie.
Hoewel die vestiging van uilhokke ‘n nuwe konsep in Suid-Afrika is, word daar gereken dat drie hokke per 100 ha voldoende is om nagmuise doeltreffend te beheer.