Madottas kan dalk kleitrap
THABAZIMBI – Die Bosveld Braaikompetisie wat Saterdag, 6 Augustus by die skou plaasvind, kan die gewilde en onoorwonne Madottas span net dalk vanjaar laat kleitrap. Dis uit monde van verlede jaar se spanne wat hul messe slyp vir vanjaar se kompetisie.
Die kompetisie laat weer net ‘n maksimum van vier lede per span toe. Spanne moet hul eie braaiers, hout, braaibenodighede, vleise, bykosse en kampie voorsien. Die kompetisie sal amptelik om 12:00 begin en beoordeling sal deurlopend geskied. Die prysuitdeling vind om 16:30 plaas.
Beoordeling geskied na aanleiding van voorbereiding, gaarmaak en opdien saam met bykosse. Alle geregte moet by die terrein gaargemaak word – behalwe enige brood. Navrae en inskrywingsvorms is by die skoukantoor beskikbaar en hulle kan gekontak word by (014) 777-1204/6. Inskrywingsvorms moet ingehandig word by die skoukantoor voor of op Vrydag, 29 Julie.