Limpopo munisipaliteite word reggeruk
Die Limpopo Provinsiale regering het pas aangekondig dat daar R8 miljoen bewillig is om Limpopo munisipalteite reg te ruk. ‘n Private maatskappy, Cyber Techonology, is volgens mnr Khuitse Diseko, woordvoerder van die departement van plaaslike regering en behuising, genader om te help met dié projek.
Veertien munisipaliteite in die Limpopo Provinsie, Thabazimbi, Bosbokrand, Maruleng, Groter Tubatse, Fetakgomo, Makhuduthamaga, Groter Giyani, Groter Letaba, Mutale, Louis Trichardt, Thulamela, Aganang, Blouberg en Lepelle-Nkumpi, gaan vir die volgende agt maande deur die maatskappy gehelp word om hul strukture en dienslewering in plek te kry.
Volgens Diseko is daar besluit om hierdie maatskappy se hulp in te roep nadat bewerings van korrupsie en wanadministrasie deur die departement ondersoek is. Die maatskappy het bevind dat daar wel strukturele probleme by hierdie munisipaliteite bestaan.
Mnr Diseko het bygevoeg dat vaardighede van amptenare, huidige kapasiteit, strukture en kliëntediens van munisipaliteite ondersoek sal word en assessore so spoedig moontlik by die 14 munisipaliteite ontplooi sal word.
‘n Waarskuwingstelsel sal in plek geplaas word sodat swakhede in munisipaliteite vroegtydig deur die departement waargeneem kan word. Kommunikasiestelsels sal hersien word en die toekenning van goedkoop behuising en finansiële bestuur sal ook nagegaan word.