Gholfnuus

THABAZIMBI – Die maandelikse Slagspel is verlede Saterdag gespeel en Derek Torlage wen met ‘n netto-telling van 68. Pieter Niemand (70), Pietie Terblanche, Jaco Prinsloo en Denis Dreyer (73) was die ander manne wat ook goeie gholf gespeel het.
Belangrike datums vir die res van die maand is Saterdag 16 Julie en ENB borgdag. Saterdag, 23 Julie is die baan gesluit. Die Limpopo dames se geslote kampioenskappe word dan op die baan gespeel. Dit is ‘n groot prestasie vir die klub om hierdie prestige byeenkoms aan te bied. Toeskouers is baie welkom om die dames te ondersteun.
Sondag 24 Julie, vanaf 12:00 gaan daar ‘n “Sondag Sundowner” oor ses putjies wees. Na die spel gaan daar ‘n bring-en-braai wees. Saterdag 30 Julie is die Gereformeerde Kerk se borgdag en Sondag 31 Julie is dit Liga by Lost City.
Esme Behrens het ‘n week gelede die Gauteng Noord Dames Kampioenskap gewen. Jaco Prinsloo, die Klub- en Junior Kampioen is in die Gauteng-Noord se O/16 span opgeneem. Baie geluk aan julle met hierdie puik prestasies.
Na gesprek met lede is die gevoel dat die Algemene Jaarvergadering wat aanvanklik vir Saterdag 13 Augustus beplan was, verskuif word na Woensdag 17 Augustus. Lede word weereens aangemoedig om hierdie vergadering by te woon. Persone wie nie die vergadering bywoon nie, moet weet dat hul klagtes of probleme nie veel aandag na die vergadering gaan kry nie. Die vergadering is die plek waar u u hart kan kom uitpraat.
Eddie Williams doen baie moeite met die baan, wat tans in ‘n puik toestand is. Ook om die klubgebou het daar die afgelope tyd heelwat verbeteringe plaasgevind. Baie van die dinge gebeur met die bydraes en fisiese handewerk van ‘n paar lede. Manne soos dr Willem du Plessis, Mike Nortje en Daan Lotheringen is maar van die enkeles wat genoem kan word.
Baie belangrik, indien u u ledegeld voor die einde van Augustus vereffen, betaal u nog die huidige fooi. Daar gaan verseker ‘n verhoging in ledegeld wees na die Algemene Jaarvergadering.