Duisende rybewyse in Limpopo ongeldig

Meer as 11 000 rybewyse wat in die Limpopo Provinsie uitgereik is, is ongeldig en bestuurders sal moontlik om nuwe rybewyse moet aansoek doen. Dit volg na duisende motoriste briewe van die provinsiale verkeersdepartement ontvang het waarin hulle meegedeel is dat hul rybewyse gekanselleer gaan word.
Grootskaalse korrupsie by lisensiekantore, van Musina tot sover as Bela-Bela, het gelei tot ‘n ondersoek waar bevind is dat dié rybewyse ongeldig is. Mnr Willie Hofmeyer, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid, het gesê die briewe wat motoriste ontvang het, volg na aanbeveling wat deur hulle gedoen is vir die provinsiale verkeersdepartement. Hierdie ondersoek is nou landswyd uitgebrei.
Volgens Hofmeyer word mense geraak wat tussen 1998 en 2000 lisensies in Limpopo gekry het. Ontstoke motoriste wat hierdie briewe ontvang het, meen dit is net ‘n “geldmaakstorie en ‘n mors van tyd”. Daar word ook deur hierdie motoriste gekla dat  verkeersdepartemente nie hul telefone beantwoord nie. Mnr Phuti Mabelebele, woordvoerder van die LUR vir vervoer, het mense gemaan om te appeleer om te verhoed dat hulle weer hul lisensietoetse moet aflê. Volgens die departement van vervoer, sal ‘n vergadering in Augustus gehou word om te besluit watter appelle geslaag het en wie weer om hul lisensies moet aansoek doen.