Nuwe hoop vir landbou
Die nuwe Direkteur-generaal van Landbou, Masiphula Mbongwa, bring hoop vir landbou met sy nuwe benadering tot die onderhandelingsproses van AgriSEB. Daaroor moet ook egter versigtig gepraat word, want ervaring het al geleer dat mense wat openlik realisties oor die landbou en sy uitdagings is en lyk of hulle die kommersiële sektor goedgesind kan wees, dikwels in eie geledere vergruis word.
Diegene buite die departement wat met Mbongwa te doene kry, praat van ‘n verskil soos dag en nag as hy vergelyk word met sy voorganger, Bongi Njobe. Sy wou alles beheer, was lief om ‘n monoloog te voer, maar ook ‘n outokraat. Daar word tot vandag toe aanvaar dat die eerste AgriSEB dokument haar handewerk was. Sy het aan die portefeuljekomitee verduidelik dat sy vir die sterre gemik het om op die wolke te land.
Ingeligtes beskryf Mbongwa as ‘n doelgerigte en vasbeslote bestuurder, maar ook ‘n realis wat daarop ingestel is om belanghebbendes met hom saam te neem, spesifiek in die stuurkomitee wat met AgriSAEB gemoeid is.
As dit sy bestuurstyl is en hy word toegelaat om dit toe te pas, moet dit verwelkom word, veral rakende AgriSEB. Die stuurkomitee het immers nou die opdrag om die finale AgriSEB-produk af te lewer en dit het ‘n dubbele rol: om die onderhandelingsproses tussen die verskillende betrokkenes te volvoer en die uiteindelike handves te skryf.
Hopelik is Mbongwa die vonk wat die Departement van Landbou dringend kort.