Limpopo grondeise lok vrae
Limpopo se Grondeisekommissaris is vol moed dat hy alle grondeise in dié provinsie teen 2008 afgehandel sal hê, maar te oordeel na grondeienaars se frustrasie lyk dit al asof ‘n paar ongemaklike hoë hekkies nog in die pylvak wag.
Daar word 82% van alle titelaktes op landbougrond in Limpopo vir restitusie geeïs. Daar is aan mnr Mashile Mokono, Grondeisekommissaris Limpopo, gevra hoe dit moontlik is dat ‘n eis in die Staatskoerant aangekondig kan word terwyl daar onsekerheid bestaan oor die identiteit van die eisers (soos deur die kommissaris erken met die eis in die Hoedspruit gebied waar 518 titelaktes geeïs word).
Mokono het in sy terugvoer geantwoord dat die aankondiging van ‘n eis (titelakte/eiendom) vir restitusie doeleindes in die Staatskoerant, bloot gesien moet word as ‘n aankondiging van ‘n proses waarmee begin is. Volgens hom moet die verloop van hierdie proses in die beste belang van alle betrokke partye geskied en, sou daar ‘n dispuut ontstaan, enige van die partye hulle tot die Grondeisehof kan beroep vir finale uitsluitsel.
Die Limpopo premier en LUR vir landbou het glo versoek dat alle nuwe besluite oor grondeise voor ‘n verteenwoordigende komitee van alle betrokkenes getoets word om sodoende ook die maatskaplike en ekonomiese implikasies onder die vergrootglas te plaas. Daar is aan Mokono gevra of hy dit as ‘n goeie voorstel beskou en of dié versoek die kommissie se taak gaan vertraag of versnel, het hy die volgende geantwoord:
Hoewel die Grondeisekommissaris van Limpopo spesifiek met dié provinsie se grondeise te make het, doen hy regstreeks verantwoording aan die nasionale Departement van Grondsake. Hoewel hy dus kennis neem van die versoek van die provinsiale regering, hoef hy hom nie noodwendig daaraan te steur as dit die restitusieproses kan vertraag nie.
Die Landbouweekblad se webtuiste kan besoek word om meer inligting oor hierdie publikasie te bekom.