Wen kaartjies vir Nataniël by Sun City
Sun City – Sanger, liedjieskrywer, kos fundi en vermaaklikheidster. Dit is Nataniël met sy eksklusiewe vertoning genaamd Love on a Sunday wat Sondag 26 Junie 2005 om 15:00 in die Superbowl by Sun City aangebied word. Hope fantasie, Nataniël se stories net soos hy alleen dit kan vertel en nog meer vokale drama, is deel van hierdie unieke een optrede wat beloof om die gehoor vasgenael in hulle sitplekke te laat.
Dit is ‘n veelsydige vertoning wat uit jazz, soul, swing en selfs gospel bestaan wat Nataniël met die grootste passie vertolk. Voeg hierby sy humoristiese sketse in Afrikaans en Engels met die tipiese Nataniël aanslag wat gewoonlik vir jou ‘n boodskappie los en jy weet jy het ‘n wenner beet.
Nataniël deel die verhoog met ‘n orkes bestaande uit Tonia Selley (vokaal en slaginstrumente), Charl du Plessis (klawerbord), Corné Dannhauser (baskitaar) en Vincenzo Henrico (tromme). Hierdie groepie het menigmaal reeds saam opgetree, en die band tussen hulle is besonder sterk.
Nog twee sangers, Lydia vom Hagen en Wess-Lee, wat reeds die verhoog verskeie kere met Nataniël gedeel het, sal hulle ook by hom tydens hierdie vertoning aansluit. Iets wat hierdie vertoning nog ‘n addisionele inspuiting gee, is die ongelooflike flambojante versameling van uitrustings deur Floris Louw wat hy reeds vir Nataniël ontwerp het.
Sy nuutste CD, Will He Weep, sal tydens die vertoning beskikbaar wees sowel as produkte van sy KAALKOP natuurlike leefstylreeks.
Kaartjies vir hierdie vertoning wissel van R70 tot R90 en is beskikbaar by Computicket by 083 915 8000.
Vir lesers van Die Kwêvoël is daar 30 gratis kaartjies vir hierdie vertoning beskikbaar wat gewen kan word. Al wat u hoef te doen is om ‘n eenvoudige vraag te beantwoord naamlik: Wat is die naam van die vertoning wat deur Nataniël by die Sun City Superbowl aangebied word? Skryf u antwoord agterop ‘n koevert of poskaart tesame met u naam, telefoonnommer en ID nommer. Twee kaartjies maksimum sal per gelukkige leser, wie se naam getrek word, toegeken word. Plak ‘n seël op die koevert en pos aan Die Kwêvoël, Posbus 163, Thabazimbi, 0380 om ons te bereik voor of op Woensdag 15 Junie. Merk u inskrywing: Nataniël kompetisie. Meld ook of u een of twee kaartjies verlang. Inskrywings kan ook by Die Kwêvoël se kantoor in Tweedelaan Thabazimbi afgelewer word. Die wenners sal voor Maandag 20 Junie telefonies in kennis gestel word. Indien u die kaartjies aanvaar, sal u naam aan Sun City verskaf word om die kaartjies te gaan afhaal. Moet asseblief nie Die Kwêvoël kantoor of Sun City in verband hiermee skakel nie. Geen vervoer na en vanaf Sun City word verskaf nie. Inskrywings word beperk tot persone ouer as 18.