Sport

Thabazimbi speel teen Warmbad

Jan Engelbrecht

THABAZIMBI – Dit was ‘n lekker koel aand toe Thaba en Warmbad mekaar Vrydagaand op Warmbad se tuisveld gepak het. Mens het al gehoor van Warmbad se toeskouers oorkant die veld, maar mens moet daar wees om dit te beleef, daardie mense staan hulle span driehonderd persent by en dit maak dit moeilik om daardie span daar te klop.
Thaba se tweedespan het die wedstryd oorheers en het met lemoentyd reeds 14-0 voorgeloop. Na rustyd het Thaba kamp opgeslaan in Warmbad se kwartgebied, maar hulle het al die goeie balbesit weggeskop waarmee hulle nog ‘n klomp punte mee kon aangeteken het. Iemand wat uitgeblink het aan Thaba se kant was die senter, Johan Fourie. Hy het sy veel groter teenstaanders met soveel geweld geduik dat hulle later sommer die bal weggeskop het as hulle hom sien. Die twee stutte, Zet en Harrold, het hulle teenstaanders stukkend geskrum en daardie twee ouens van Warmbad was regtig bly toe die eindfluitjie geblaas het. Die tweedespan is nou ver voor in die liga en die enigste onoorwonne span in die liga. Puntemakers aan Thaba se kant is Zet Gqotile en Reggie Zanendaba wat elk ‘n drie gedruk het. Rudi Grobler slaag met twee doelskoppe.
Dit was hard ongenaakbaar en baie spannend toe die twee eerstespanne mekaar getakel het. Geen genade was gegee of gevra nie. Die halftyd telling van 3-0 in Thaba se guns weerspieël ook die wedstryd. Die wedstryd was baie gelykop en net na halftyd het Thaba weer gaan druk en die telling was 10-0. Mens het die gevoel gekry dat die wal enige oomblik kon breek, maar Warmbad se manne het soos tiere verdedig en Thaba se snellers net geen beweegruimte gegee nie.
Warmbad het ‘n strafdoel behaal en die laaste twee minute op Thaba se doellyn geboer. Hulle het die doellyn aangeval met alles wat hulle het. Thaba het soos tiere verdedig, maar helaas verniet, want die skeidsregter het ‘n strafdrie aan Warmbad toegeken. Dié het hulle verdoel en die telling was aan die einde 10 punte elk. Puntemakers aan Thaba se kant was Willem van der Nest met ‘n drie wat deur Cobus Snyman verdoel is. Cobus skop ook ‘n strafskop oor. Willem was ook man van die wedstryd. Hy en Piet Engelbrecht speel wedstryd na wedstryd hulle harte uit. Die kaptein, Jannie Lotter, het soos gewoonlik sy goeie wedstryd gespeel. Hy en die ander stut, Skip Scheepers, het nog nie manne gekry wat hulle kan skrum nie.
Hierdie Vrydag speel Northam Platinum teen Thaba op Thaba se tuisveld, dit is ‘n goeie tyd om nou te kom kyk hoe speel die manne lekker rugby.