Aktiwiteite volop by Bosveldfees
ELLISRAS – Die Ellisras Bosveldfees beloof om vol opwindende aktiwiteite te wees. Die fees vind plaas vanaf Woensdag 6 Julie tot Saterdag 9 Julie. Plaasverwerkte produkte soos karringmelk en plaasbotter gaan enige bosvelder se mond laat water.
Kunstenaars wat gaan optree is onder andere Gerrie Pretorius, Die Bosveld Klong, Zak van Niekerk, Illana May, Die Campbells en vele lokale talent. Die Bosveldbal en Mej Bosveld gaan vir groot opwinding sorg en al wat bosveldnooi is, is besig om die laaste voorbereidings te tref.
Die beesteskou sal beeste soos Brahman, Simmentaler en Limousin insluit en vir die bokliefhebber sal daar ‘n dorper en boerbok vertoning wees. Buiten die perdeskou sal daar op die koop toe ‘n ope hondeskou kompetisie wees. Die SAPD se honde-eenheid beloof om ‘n een uit ‘n duisend vertoning te lewer.
Buiten die Maroela Gholf kompetisie sal die potjiekoskompetisie ook groot belangstelling lok. Om ‘n dag vol boeresports, sweepslaan, houtkap, mampoerproe en 4×4 opwinding af te sluit, sal daar heerlik om die kampvure by die biertuin gekuier kan word.
Interessante stalletjies soos rottangware, pottebakkery, klerasie, juwele, skilderye, bosklere, draadtrekkers, biltongkerwers, hout- en staalmeubles, leerprodukte en talle kosstalletjies gaan die Ellisras Bosveldfees deur en deur die moeite werd maak.