Voetslaanklub durf Visrivier Canyon aan
THABAZIMBI – Die Voetslaanklub het die groot Visrivier Canyon in Suid-Namibië aangedurf. Elf van Thabazimbi se stappers en agt stappers van elders het vanaf 14 tot 18 Mei die roete gaan stap.
Die 90 km roete bly een van die uitdagendste, mooiste en vermoeiendste staproetes in dié land. Die roete sal voortaan ook deel vorm van die Richtersveld Nasionale Oorgrenspark tussen Suid-Afrika en Namibië wat aanvanklik sowat 600 000ha sal beslaan en mettertyd selfs sal uitbrei.
Die Visrivier is ongeveer 900 km lank tot waar dit uitmond in die Oranjerivier. Die Canyon in die Visrivier is sowat 161 km lank, 27 km op sy breedste en 549 meter op sy diepste.
Ongelukkig het die roete na 70 km, met slegs sowat 20 kilometer oor, op ‘n anti-klimaks geëindig toe Namibiese Natuurbewaring die groep verwyder het omdat die Visrivier se watervlak skielik kon styg as gevolg van die Hardap dam se oopgemaakte sluise.
Daar is toe by die eindpunt gekuier vir ‘n dag, waar hulle via die Onseepkans grenspos, by die Augrabiese watervalle aangedoen en huiswaarts gekeer het.
Mede-dorpsgenote word aanspoor om die wonderlike ervarings met hulle te kom deel. Leer ken die verkillende dele van Suid-Afrika en word in die proses fiks. Daar is geen kostes as klublede betaalbaar nie. Vir navrae kan Hugo Coetzee gekontak word by (014) 772 1836 of ds Gert Kok by (014) 772 1689 of Alta Botha by (014) 772 2850.