Touchrugby te Swartwater
THABAZIMBI -Thabazimbi het die afgelope naweek twee rugbyspanne gehad wat aan die Touchrugby toernooi te Swartwater Bosveldkarnaval deelgeneem het. Daar was altesaam 20 spanne van oraloor wat ingeskryf het.
Paula Roberts, wat al die reëlings vir die naweek behartig het, het vir die Thabazimbiërs plek bespreek in ‘n jagkamp naby Swartwater. Met die konfooi se aankoms Vrydagaand op Swartwater, is daar tot laatnag om die vure gekuier en gebraai. Die jagkamp was egter teen die Limpoporivier en die vroue het hul hande voller gehad om die manne uit die krokodille se bekke te hou as om die kinders dop te hou.
Saterdagoggend is daar vroeg ontbyt geëet en met oormoeg lywe (van die mans) is daar afgesit na die toernooi toe. Thabazimbi se rugbyklub het vier wedstryde gespeel en kom in die eindstryd teen Krugersdorp te staan. Thabazimbi eindig algeheel tweede in die toernooi en wen T-hemde en R2000 kontant.
Vir die jongspan was daar ook baie vermaak en die hoogtepunt was die varkvang kompetisie. Dié vark het egter besluit om hasepad te kies deur die drade en die jongspan moes klim en klouter vir ‘n vale om die vark in die hande te kry.
Die “Golden Oldies” span wat uit die ouer manne van Thaba bestaan het, speel twee wedstryde, maar met onfiks lywe en die voggies nog kloppend van die vorige nag se gekuier, kon hulle nie daarin slaag om te wen nie. Hierdie span het egter vir groot vermaak gesorg en die Thabazimbiërs het hulle luidkeels aangemoedig.
Die “Golden Oldies” was uitgeput en nog moeg van die vorige nag se min slaap, toe daar aangekondig word dat hulle ook nog boonop vir die waterkaskanades ingeskryf is. Met moeë lywe moes hulle ‘n hindernisbaan trotseer wat enige “normale” deelnemer se nagmerrie kon wees. Met ‘n gestoei, geval en ‘n gelag, is hulle deur die hindernisbaan en het as ‘n modderige span met totale uitgeputte lywe klaargemaak.
Hierna kon die manne, wat al redelik uitgehonger was, weglê aan ‘n heerlike osbraai met bygeregte. Dit het bygedra dat sommiges weer so bietjie woema kry om die aand af te sluit met Zack van Niekerk wat as gaskunstenaar by die geleentheid opgetree het.
Sondagoggend het die manne so hier en daar ‘n lyn in die rivier nat gemaak, maar die sukses was nie juis ‘n “groot storie” nie. Die grootste vis vir die dag het so by die 20g geweeg. Na ‘n heerlike braai is daar opgepak om die lang pad aan te durf huistoe.