Sneeu lok talle nuuskieriges!
Vir mense in die Noordelike Halfrond – veral Europa en Amerika – is sneeu alledaags, maar in Afrika is dit uiters raar. Wel, ook nie meer nie, want Gautengers kan sneeu nou vier maande per jaar beleef en geniet.
Vier New Yorkers kon hulle oë nie glo toe hulle die afgelope week op ‘n ski-oord in die Drankensberg afkom nie. “Do you think our friends in New York will believe us, that we’ve been skiing in Africa?!” Het hulle verbaas uitgeroep. Hulle was deel van meer as 250 skiërs wat ‘n voorsmakie van vanjaar se sneeu-skiseisoen, net vier en ‘n half uur se ry van Gauteng af, beleef het.
Daar heers tans groot opgewondenheid, nadat die eerste natuurlike sneeu van die seisoen op die Maluti’s in die Drakensberge geval het. Die nuwe Afri-Ski Leisure Kingdom vervaardig (net soos Europese oorde) óók sneeu om ski-aktiwiteite te verseker. Met die droë lug vanweë die hoogte bo seespieël en die lae temperature, kan daar tot 25 kubieke meter sneeu per uur deur elke sneeumaakmasjien vervaardig word.
Talle nuuskieriges gaan loer en geniet tans die sprokieswêreld wat deur sneeu geskep word. Oud en jonk het die afgelope paar dae die kans benut om in die mensgemaakte sneeu op die ski-helling van 1 km te baljaar, selfs tot 02:00 in die oggend.
Afri-Ski is hoog in die Drakensberge van Lesotho geleë en is maklik per motor bereikbaar. Meer inligting is beskikbaar by www.afriski.co.za of 086 111 7111.