General

R4,5 miljoen vir plattelandse onderrig ingesamel

Die vyf naweke in Mei was ‘n miernes van bedrywighede toe meer as 400 veldry-voertuie in konvooie na uitgestrekte dele van die land gery het om boeke, wetenskap-stelle, opvoedkundige speelgoed, sporttoerusting en ander bruikbare items by 135 verafgeleë, plattelandse laerskole regdeur Suid-Afrika te gaan aflewer.
“Die jaarlikse Rally to Read het weereens meer as 1 200 individue en maatskappy-verteenwoordigers saamgebring wat daarop uit was om die pogings van plattelandse skole wat ‘n beter opvoeding aan hul leerders wil bied, te ondersteun,” het Brand Pretorius, voorsitter van McCarthy Motor Holdings, gesê.
“Die projek is in die lewe geroep weens die besef dat die hedendaagse jeug doeltreffend moet kan lees en skryf ten einde die beste te kan maak van geleenthede wat in die toekoms kan opduik. Plattelandse kinders loop egter die grootste gevaar om nie hierdie vaardighede te ontwikkel nie – hoofsaaklik weens die tekort aan hulpmiddels in hul skole, en dit is waarmee die Rally to Read help.”
Die projek is in 1998 deur onder meer die Read Educational Trust en McCarthy’s op die been gebring en word jaarliks met die aktiewe betrokkenheid van meer as 100 borge deurgevoer.
Meer as R17 miljoen is sedert die begin van die projek ingesamel om boeke aan te koop en ‘n omvattende professionele ontwikkelingsprogram vir onderwysers te finansier.
Rally to Read, ‘n vennootskap tussen korporatiewe maatskappye en individue asook die onderwysdepartemente van agt provinsies, het vanjaar verseker dat ‘n bykomende R4,5 miljoen belê is in boeke, onderwysersopleidingstelle en ander opvoedkundige materiaal ter ondersteuning van die nasionale veldtog om die taal- en geletterdheidsvaardighede in benadeelde plattelandse skole te verbeter.
Rally to Read 2005 het nagenoeg 30 500 leerders en 950 onderwysers bereik in skole wat buite die onderrig-hoofstroom vasgevang sit.
“Skole en gemeenskappe word goed uit hierdie projek bevoordeel, en die organiseerders, borge en vrywilligers word geprys vir hul betrokkenheid en persoonlike, regstreekse benadering,” het Cynthia Hugo, uitvoerende hoof van die READ Educational Trust, gesê.  Die projek is ook deur die Minister van Onderwys, Naledi Pandor, erken vir die belangrikheid daarvan en die projek se bydrae ten opsigte van die opheffing van plattelandse gemeenskappe.
Hierdie besoeke aan die skole dui die begin aan van ‘n professionele ontwikkelingsprogram oor drie jaar wat deur READ vir die onderwysers van skole in nege verskillende streke van die land aangebied word. Die doel van die program is om wêreld-klas onderwysmetodes na hierdie afgeleë plekke te bring en die doeltreffende toepassing van leermetodes vir geletterdheidsvaardighede as grondslag vir lewenslange opvoeding aan te moedig.
“Rally to Read is baie bevoordeel deur die betrokkenheid en energie van die duisende Rally-deelnemers wat die afgelope agt jaar elkeen iets uniek bygedra het deur aan die naweek-byeenkomste om die skole te besoek, deel te neem,” het Pretorius gesê. “Dit is ‘n bevredigende ervaring om in ‘n posisie te wees om ‘n tasbare belegging in die lewe van duisende jong Suid-Afrikaners – en sodoende die toekoms van die land – te maak.”
Rally to Read-borge was vir die naweek die gaste van die organiseerders, en het as deel van spanne bestaande uit ses voertuie die materiaal by tot drie skole in die omgewing afgelewer en die onderwysers en leerders ontmoet.  Die borge van die projek het elk R17 000 geskenk waarvan R11 000 gebruik is om die boeke in die draagbare boksbiblioteke te koop, en R6 000 vir onderwysersopleiding.
Aangesien die skole meestal ver van dorpe geleë is en gewoonlik nie met gewone voertuie bereik kan word nie, is die borge se 4×4-voertuie behoorlik ingespan om die boeke wat deur hul bydrae gefinansier is, persoonlik by die deelnemende Rally to Read-skole af te lewer.