General

Inbrekers vergiftig 130 honde

RUSTENBURG – Inbrekers het gedurende hierdie jaar, volgens die polisie, 130 honde in Rustenburg in Noord-Wes vergiftig.
Twee smouse is gearresteer in verband met die verkoop van ‘n gif met die bynaam “Two Steps”. Daar word beweer dat dit die hoeveelheid tree is wat ‘n hond gee voordat hy sterf.
Op 31 Mei is Frans Mbuti Ramogale (32) en Gladys Mighty Senzo (40) naby ‘n supermark gearresteer toe hulle volgens bewering 10 gram van dié gif verkoop het.
Hulle het in die Rustenburgse Distrikslanddroshof verskyn op die klag van besit van skadelike stowwe. Hulle is nie gevra om te pleit nie en is op waarskuwing voorlopig vrygelaat en sal weer op 4 Augustus in die hof verskyn.
Die woordvoerder van Marico polisie, kaptein Elsabe Augoustides, het beweer dat die smouse dié gif koop vir R15 en dit dan in kleiner pakkies verdeel en weer op straat vir R5 per pakkie verkoop.
Die gif is vir forensiese toetse gestuur vir identifikasie.
Volgens Augoustides is 130 honde sedert Januarie in voorstedelike gebiede van Rustenburg vergiftig.
Gedurende Maartmaand is daar in een week 12 honde in een blok van Geelhout Park, uitbreiding ses, vergiftig. Nog ses honde is gedurende Junie in Klooftuine vergiftig.
Nog honde is vergiftig in die voorstede Safari Tuine en Protea Park.