Huisinbrake weer aangemeld
THABAZIMBI – Die polisie was die afgelope tyd oortuig dat die vermeende inbrekers agter tralies is nadat daar op onwettige immigrante toegeslaan is. Die afgelope naweek was daar egter weer twee voorvalle van huisbrake.
In Daffodilstraat is ‘n veiligheidsdeur oopgebreek en toegang tot die huis verkry. Die verdagtes het kontant en ‘n radio gesteel. Die sleutels is buite die huis gekry en die polisie vermoed dat die verdagtes gesteur is en toe op die vlug geslaan het.
Die tweede inbraak was by Krombekstraat waar die inbrekers by ‘n glasskuifdeur toegang tot die huis verkry het. Die verdagtes het ook op die vlug geslaan met ‘n radio. Albei hierdie inbrake het voorgekom terwyl die inwoners in die huis was.
Die polisie maan alle inwoners om hul deurslotte te versterk en polisiemanne in sleutelgate aan te bring. Die polisie het ook weereens die publiek gemaan om nie hierdie inbrekers te konfronteer nie, maar die polisie onmiddellik te ontbied. Enigiemand wat verdagte persone by wonings opmerk, kan die speurhoof, kaptein Sakkie Louwrens kontak by 082 565 7939.