Groot vermaak by Landbouskou
THABAZIMBI – Die organiseerders van die Landbouskou beloof dat vanjaar groot vermaak en verskeidenheid aktiwiteite na elkeen se smaak gaan inhou.
Die RiVo toneelgroep gaan Donderdag 4 Augustus, ‘n kort komedie “Skoukoors”, op die planke bring wat die lagspiere ‘n goeie oefenlopie gaan gee. Die sanger “Lourens”, gaan toeskouers vermaak met sy “Dozi”-stem om almal in die regte luim te kry.
Vrydag 5 Augustus gaan Van Wykskraal se trompoppies ‘n vertoning lewer wat opgevolg gaan word deur ‘n gimnastiek- en skopboks vertoning. Die aand se vermaak sluit Hoërskool Frikkie Meyer se twee toneelgroepe en Laerskool Thabazimbi se revuegroep in. Die aand word afgesluit met die hoofvertoning deur Klopjag.
Saterdag se program is die hoogtepunt met die Vlakvark fietswedren, die babakompetisie en Alice wat as kunstenaar gaan optree. Vanjaar spog die skou ook met ‘n nuwe baadjie deur hul kompetisie, “Skou Idols”, wat vir baie vermaak gaan sorg. Dit is die eerste jaar wat die Idols-kompetisie aangebied word en enige persoon wat kan sing of musiek maak word uitgenooi om deel te wees van die Idols-kompetisie. Die beoordelaars is Alice en Klopjag en groot pryse is op die spel.
Die braaikompetisie, met Madotta’s as onoorwonne kampioene vir die laaste paar jaar, gaan baie belangstelling lok. Ieder en elk wil hierdie kampioene graag vanjaar op hul neuse laat kyk. Inskrywingsvorms is by Thabazimbi Delta verkrygbaar. As jy nie gaan inskryf nie, moet jy vir seker jou kampstoel saambring sodat jy hierdie mededinging kan gadeslaan. (Vanjaar sneuwel Madotta’s onder die hoë standaard opponente).
Daar sal ook deurlopend ‘n perdekompetisie vir die dag aangebied word. Perdeliefhebbers moet nader skuif en hierdie talentvolle deelnemers kom ondersteun.
Vir die kinders sal ‘n spookhuis sorg vir genoeg pret en Simba, die leeu, gaan die kinders se dag verder vervolmaak.
Die rugby, met die springbokke in aksie, sal op die “big screen” uitgesaai word en die Biertuin sal sorg dat die kele nie hees geskreeu word om die bal by die doellyn te kry nie.
Die skou sal afgesluit word met ‘n dans die aand in die Marké tent.