Brandstofpryse skep probleme in landbou
Die verwagte styging in brandstofpryse sal nie deur die landbou in Suid-Afrika geakkomodeer kan word sonder dat die bedryf skade ly nie. Dit is volgens mnr PA von Wielligh, voorsitter van TLU SA se energiekomitee.
“Vanuit ‘n landbouperspektief word vraagtekens geplaas op doeltreffendheid in die metode van vasstelling van brandstofpryse (wat juis tydens ons voorbereiding vir en tydens planttyd self, ‘n hoogtepunt skyn te bereik), die belastingimplikasie en die wyse waarop die regering dit saamstel, asook Sasol se rol in hierdie proses,” sê hy.
Daar is ook ongelukkigheid oor die gerugte rakende die verspreiding van brandstof vanaf Suid-Afrika na buurlande wat hierdie selfde brandstof verkoop teen baie goedkoper as waarvoor dit in Suid-Afrika beskikbaar is. Ons land vervaardig tans ongeveer 40% van sy eie brandstof en daar behoort ‘n besparing te wees wat na die verbruiker deur gegee kan word.
TLU-SA stel voor dat die regering weens die golwende effek binne die oliebedryf meer goedkoop voorrade moet bekom en dit opberg om die finansiële impak van stygende pryse op die verbruiker te beperk. Die egalisasiefonds kan gebruik word om hierdie doel te bereik.