Entertainment

Afro – Dizzia! – Reg in die kol

Sun City – Afro – Dizzia!, die nuutste extravaganza aanbieding van Sun City, volg so reg in die voetspore van al die ander extravaganzas waarvoor Sun City wêreldbekend is.
Hierdie vertoning herdenk nie alleen die verlede nie, maar dien ook as ‘n vertoonvenster van ons pragtige land met sy nuwe demokrasie en die fantastiese talent waaroor ons beskik. Hierdie talent, tesame met die artistiese en tegniese personeel, bied ‘n onvergeetlike aanbieding wat beslis die moeite werd is om te sien.
Die regiseur, Kurt Wüstmann het reeds 15 jaar ondervinding in toneel, televisie en films. Hierby het hy in meer as 50 produksies gespeel en is vir 15 teater nominasies wêreldwyd genomineer. Die choreograaf, Clarence Swartwater, wat vanaf kontemporêre dans student gevorder het tot student in ballet aan die Universiteit van Kaapstad, toon met hierdie opvoering dat hy in noue voeling is met die hele kultuuropset in Suid-Afrika en het dit dan ook meesterlik uitgebeeld – van die plaas tot die taxi in al sy glorie op die verhoog.
Die kleurryke kostuums verteenwoordig beslis die kleurrykheid van ons reënboognasie. Die invloed van die verskeie kulture op ons samestelling word ook uitstekend uitgebeeld.
Die sangers bestaande uit Stephan Marick, Lindeliwe Duma en Sacha Hendricks, is ‘n goeie voorbeeld van die uitstekende talent waaroor ons hier plaaslik beskik. Met die ondersteuning van die dansers word fantasie ‘n werklikheid voor jou oë.
Hierdie vertoning is beslis uit die hoogste rakke en ideale vermaak as jy net wil terugsit en ontspan.
Kaartjies is beskikbaar by Sun City by tel (01455)0 0000. MVG gaste kan kaartjies teen vyf punte elk by die MVG toonbank bespreek.