General

100 Jaar vir oudste inwoner

THABAZIMBI – Ouma Lina Briel het op 20 Junie haar honderdste verjaarsdag gevier.
Tannie Lina, die laatlammetjie van Marthinus en Isabella Schoeman wat agt kinders, vier seuns en vier dogters, gehad het is in Marikana gebore.
Sy het ook daar grootgeword en by ‘n Hollandse onderwyser mnr Luipen, skoolgegaan.
Wintermaande het die gesin op die plaas Hampton, langs die Krokodilrivier gekamp. Tannie Lina, ‘n puik perderuiter, het die tog van Marikana na Hampton, te perd gery.
Hier in die Bosveld het sy haar man, Koos Briel, ontmoet. Die Briels het ook jaarliks in die winter met hulle vee Bosveld toe getrek.
Op 21 Maart 1933 is die egpaar in Rustenburg in die Hervormde Kerk getroud. Hulle het hulle op die plaas Remhoogte in Brits gevestig waar drie dogters, Bellie, Susan en Riekie gebore is.
Jaarliks het hulle elke winter steeds met die vee na Thabazimbi getrek. In Junie 1945 het die gesin vir goed bosveld toe getrek en hulle op die plaas Nooitgedacht gevestig.
Die eerste ses maande was die “huis” ‘n tent op die rivier se wal, met ‘n primitiewe lewe van water aandra uit die rivier en ‘n oop vuur buite.
Die eerste gebou wat opgerig was was ‘n stoor en die tent is toe onder die stoor opgeslaan. Die rivier was ver van die stoor af en water moes aangery word.
Na die Tweede Wêreldoorlog was boumateriaal moeilik bekombaar en boubeperkings het gegeld.
Die naaste boumateriaal besigheid was Dreiers op Brits. Die boumateriaal was per trein tot op Thabazimbi vervoer en van die stasie af plaas toe per ossewa. Dit het ‘n jaar geduur om twee kamers te voltooi.
Tannie Lina sê: “Dit was ‘n luukse om ‘n deur of venster oop of toe te maak.” Die ander luukse was ‘n stoof teen ‘n hardekoolboom, onder ‘n afdak.
Die volgende luukse was ‘n bakoond met ‘n potysterdeur. Hierdie bakoond staan nog, en tannie Bellie Welgemoed het so vyf jaar gelede vir Die Kwêvoël se verslaggewer nog gewys hoe sy kleinkoekies en brood in hierdie oond bak. Dit is ‘n kuns om die regte hoeveelheid hout te pak. Tannie Lina se man, oom Koos, het altyd die vuur vir haar gepak.
In April 1949 is sterk water raakgeboor. ‘n Drinkwaterdam en ‘n beessuipkrip is gebou en ‘n vrugteboord is ook aangelê.
Oom Koos is 27 Januarie 1960 skielik aan ‘n hartaanval oorlede.
Op daardie stadium het die twee oudste susters, Bellie en Susan, in Pretoria verpleeg en Riekie was op hoërskool te Rustenburg.
Ouma Lina het op die plaas aangebly. Haar dogter Bellie het toe ‘n susterspos op Thabazimbi gekry. Ouma Lina en haar twee getroue werkers, Jan en Amos het ook ingespring en die vrugteboord uitgebrei. Die naartjies was so soet dat dit naderhand oor die hele land versend is.
Tannie Lina en die werkers het self drade gespan en die beeste versorg. Tydens die harde werk het sy vele huweliksaanbiedings  gekry en van die hand gewys.
Vir ontspanning het sy gelees, radio geluister en gehekel. Al die kleinkinders, dogters en seuns het hulle kwota hekelwerk van ouma Lina gekry. Sy het ook kniekomberse gehekel en uitgedeel, waarvan sommiges self vandag oorsee is. Haar laaste kniekombers het sy in Maart 2004 voltooi.
Tannie Lina was bekend vir haar smaaklike sop, beetslaai en souskluitjies. Vandag kan sy nie meer die werk self behartig nie, maar sy geniet haar kos en alles wat vir haar gedoen word.
Haar kinders en kleinkinders het by haar geleer om ‘n oop hart en hand in die lewe te hê en dat dit meer verrykend is om te gee, as om te ontvang. Sy het hulle ook geleer dat jy jou medemens en werkers met respek behandel. Sy het die natuur leer ken, waardeer en bewaar, immers was sy baie alleen tydens stormwinde, reën en donderweer.
Sy is ‘n gelukkige en vervulde mens, want sy het die waarde om na boontoe te kyk geken en besef dat jy beter met toe oë kan sien.