General

Veediefstal in Limpopo neem af

Die senior superintendent van Pretoria se veediefstaleenheid, mnr Oosthuizen, het sy tevredenheid uitgespreek met betrekking tot die sukses graad wat behaal is in die voorkoming van veediefstalle en opsporing van wild in die Limpopo Provinsie. Hy sê daar is ‘n merkbare afname in die aantal lewende hawe wat gesteel word en die veediefstaleenheid rapporteer meer opsporings van gesteelde diere.
Die Limpopo Vee- en Wilddiefstal komitee het hul eerste vergadering van die jaar op 10 Mei te Pietersburg gehou. Die voorsitter, mnr Coen Groenewald, het gesê dat hy tevrede is met die vordering wat gemaak is, maar het ‘n beroep op veeboere en lede van die veediefstaleenheid gedoen om saam te werk om toekomstige diefstalle verder te verminder.
Groenewald het ‘n beroep op alle wild- en veeboere gedoen om alle lewende hawe te merk volgens die bepalings in die Diere Identifikasie Wet no 6 van 2002. Hy het gesê dit is in elke eienaar se beste belang dat al sy diere duidelik gemerk en die merk geregistreer is.
Hy het ook bygevoeg dat dit noodsaaklik is dat die korrekte dokumentasie voltooi moet word vir die vervoer van diere. Lede van die veediefstaleenheid het gekla dat nie alle eienaars van lewende hawe voldoen aan dié bepalings soos deur die wet neergelê nie. Alle nodige dokumentasie moet ook aan die afslaer oorhandig word die dag met ‘n veiling.
Sup Mokale, provinsiale koördineerder van die veediefstaleenheid, het ‘n beroep op almal gedoen om nie gesteelde lewende hawe te koop nie. Hy het gesê hierdie praktyk beïnvloed die hele lewende hawe industrie en veroorsaak groot probleme vir die SAPD. Mokale het gesê die polisie werk baie hard om veediefstalle te bekamp, maar dat alle aandeelhouers moet saamwerk om ‘n oplossing te vind.