General

Studente besoek dorp

THABAZIMBI – ‘n Groep studente van die Hervormde Gemeente Philadelphia, Pretoria, besoek Thabazimbi op 26 en 27 Junie. Die groep maak deel uit van ‘n toergeselskap wat met fietse die provinsies, Limpopo en Mpumalanga vertrap. Die studente arriveer Sondagmiddag 26 Junie per bus en vertrek weer Maandagoggend na ontbyt na Naboomspruit.
Die doelwit is om soveel moontlik geld in te samel vir die diens van barmhartigheid. Projekte wat onder andere hierby gaan baat, is traumaberading, kosuitdeelaksies, kinderwelsyn, bejaardesorg en maatskaplike dienste. Sommige van hierdie studente het self studieskuld, maar is bereid om hulle vakansie op te offer om vir liefdadigheid geld in te samel.
Die studente gaan alles in die stryd werp om ongeveer 60 kilometer per dag per fiets af te lê. Die bagasie word met ‘n bus vervoer wat ook in ongure weersomstandighede die studente kan huisves en die uitgeputte trappers kan vervoer. Die groep bestaan uit 38 studente.
‘n Beroep word aan die gemeenskap gedoen om hierdie verdienstelike poging te ondersteun. Vir meer inligting kan ds Loots by (014) 772 1137 gekontak word.