General

SANLAM BIED VERLIGTING VIR BOERE

Boere wat finansiële druk ervaar, kan moed skep – Sanlam bied nou geleenthede om die betaling van premies op hul polisse te verlig.
Volgens Kobus Engelbrecht, bemarkingshoof van Sanlam Cobalt, gaan boere in verskeie streke van die land steeds gebuk onder die las van knellende droogtes en gepaardgaande swak oeste.
“Al het dit in sommige dele van Suid-Afrika begin reën, word baie boere nog finansieel lam gelê deur die skade wat die droogte veroorsaak het. Dit plaas boere onder geweldige finansiële druk. Sanlam het daarom oorbruggingsfasiliteite in plek gestel om dit vir hulle makliker te maak om hul finansiële verpligtinge na te kom en om te help verhoed dat waardevolle risikodekking verlore gaan,” sê hy.
Boere wat Stratus-polisse het, kan nou aansoek doen om tydelik geen premies op dié polisse te betaal nie indien hulle weens sekere omstandighede ‘n tydelike inkomsteverlies ervaar. Buiten vir boere, word die premievakansie ook in die volgende gevalle toegelaat: swangerskap; bedanking of afdanking by vorige werkgewer, en deeltydse of voltydse studie.
Boere en ander Sanlam-kliënte wat van hierdie hulp gebruik wil maak, kan gerus die Sanlam Kliëntekontaksentrum by 0860 000 121 skakel. Die Kliëntekontaksentrum sal aan die inbeller verduidelik watter oorbruggingsfasiliteit op hom of haar van toepassing is, watter reëls geld, en die prosedure wat gevolg moet word.