Entertainment

Pendoring nou oop vir alle SA tale

Alle inheemse tale van Suid-Afrika kan nou deelneem aan die Pendoringreklamewedstryd! ‘n Splinternuwe kategorie is pas geloods in samewerking met CAFÉ, (Communication and advertising forum for empowerment) waar die fokus op alle inheemse tale is, met die uitsondering van Afrikaans.
Danksy dié ontwikkeling kan Pendoring nou met reg verklaar dat dié wedstryd ten volle verteenwoordigend van almal in Suid-Afrika is. Pendoring is 11 jaar gelede deur die vernaamste mediagroepe in die land gestig as doelwit om voortreflike Afrikaanse reklame te beloon en bevorder. Dié standpunt van die organiseerders dat die doeltreffendste manier om ‘n spesifieke teikengroep te bereik deur moedertaalreklame is, word gedeel deur CAFÉ, ‘n forum wat hom beywer om transformasie en bemagtiging in die bedryf te organiseer, fasiliteer en betrokke te raak by aktiwiteite wat dit bewerkstellig.
Soos in die geval van Afrikaans, glo baie rolspelers en besluitnemers in die advertensiebedryf, dat dit voldoende is om slegs in Engels te adverteer. Die feit dat baie Suid-Afrikaners nie Engels verstaan nie en dat die reklameboodskap derhalwe verlore gaan, word nie altyd in ag geneem nie.
Nog ‘n kwessie wat gedeel word deur reklame in Afrikaans en Suid-Afrika se ander inheemse tale is dat beoordelaars van reklamewedstryde nie die fyn nuanses van ‘n spesifieke taal in ag neem wanneer toekennings gemaak word nie. As gevolg hiervan verower advertensies in inheemse tale baie selde toekennings.
Aanvanklik sal daar net een kategorie vir inheemse tale wees waarvoor advertensies ingeskryf kan word wat geplaas is in een van die volgende media: TV, radio, koerante, tydskrifte en buitelug. Studente mag ook aan die kategorie deelneem, maar sal op gelyke vlak met inskrywings van die bedryf, beoordeel word.
Afhangende van die reaksie uit die advertensiebedryf, mag daar in die toekoms meer as een kategorie vir inheemse tale ingestel word. Soos in die geval van die ander kategorieë in Pendoring, ontvang die wenner ‘n Pendoring trofee, R6 000 en ‘n ‘Vodafone Live’- selfoon.
Alhoewel die amptelike sluitingsdatum van Pendoring 30 Junie 2005 is, sal inskrywings vir vanjaar se toekenning tot 8 Julie aanvaar word. Beoordeling vind 22 tot 24 Julie plaas en die gala-aand waar die wenners van vanjaar se Pendoring aangekondig sal word, is op 2 September by VodaWorld.