Naelbyt rugbywedstryd teen Vaalwater

Jan Engelbrecht

THABAZIMBI – Thaba se eerste- en tweedespanne het albei Vrydag teen Vaalwater gewen, maar selfs die getrouste ondersteuner van Thaba se vingernaels lê aan flarde by hulle voete. Veral die eerstespan wedstryd was ‘n riller.
Vaalwater het met ‘n bulspan vir Thaba daar anderkant gewag en selfs ‘n klomp “nuwe” spelers bygekry. Van meet af het hulle die die pap sommer dik aangemaak. Thaba het walgegooi en geproes, want hulle moes sonder sewe van hulle gereelde eerstespanspelers klaarkom weens beserings en onttrekkings. Dit was net karakter en Thaba se groot wil om te wen wat tussen hulle en ‘n loesing gestaan het. Om dit nog erger te maak is die een flank binne vyf minute in die tweede helfte van die veld gejaag met ‘n rooikaart omdat hy volgens die lynregter baklei het, alhoewel hy nooit die man gesien het wat Thaba se flank geslaan het nie. Dit is waar Thaba se karakter toe regtig deurgekom het, want toe skrum hulle Vaalwater dat hulle huistoe verlang.
In die hele tweede helfte was Vaalwater seker so drie keer vir kort oomblikke in Thaba se helfte. Thaba kon seker verder gewen het, maar die stelskoppers het sewe skoppe na die pale gemis. Vaalwater het ‘n paar keer sterk aangeval en as hulle nie so swaar gekry het in die skrums nie, kon hulle die wedstryd gewen het, want hulle agterlyn was lus om te hardloop.
Jannie Lotter het ‘n reuse wedstryd gespeel en was ook man van die wedstryd. Die twee Greeff broers was soos gewoonlik gevaarlik met die bal in die hand en Nico was regtig ‘n doring in Vaalwater se vlees. Thaba het uiteindelik met die reuse telling van 3-0 gewen nadat Rudi Grobler met ‘n strafskop geslaag het.
Die tweedespan het karakter getoon met soveel spelers wat vir die eerstespan gespeel het. Hulle moes behoorlik walgooi teen die aanslag van Vaalwater. Met halftyd was Vaalwater 8-0 voor, maar toe die spanne omdraai het Thaba se karakter en groot wil om te wen oorgeneem en Thaba wen die wedstryd 10-8.
Brian Mali het weereens ‘n reuse wedstryd gespeel en hy was ook man van die wedstryd. Bertus Roos begin ook nou weer die rugby speel wat ‘n mens van hom verwag.
Albei spanne is nog onoorwonne en lê ook bo-aan die liga. Dit bly maar moeilik om bo te kom en nog moeiliker om bo te bly. Die volgende twee weke rus die Waterbergspanne, maar hierdie Saterdag gaan Thaba op Swartwater aan ‘n raak-rugbydag deelneem. Volgende Saterdag sal Thaba op Vaalwater aan ‘n sewes-rugbytoernooi deelneem en dan speel hulle weg teen Nylstroom op 8 Julie.