General

Klopjag by die Landbouskou

THABAZIMBI – Die reeds bekende Klopjag musiekgroep, tree eersdaags by die Landbouskou op. Hulle tree Vrydagaand 5 Augustus op in ‘n twee en ‘n half uur vertoning.
Klopjag het begin musiek maak as studente in 2002 en hul potensiaal was onmiddellik bevestig toe hulle na slegs vier maande aangewys is as ATKV Crescendo finaliste. Die groep bestaan uit Salmon de Jager, John-Henry Opperman, Marie-Louise Pretorius en Dawie de Jager. In 2003 bedank die vier hul werke en word voltydse musikante.
In dieselfde jaar tree hulle op by KKNK en Aardklop en reik hul eerste album, “13/02” uit en ontvang ‘n nominasie as “Beste nuweling” by die Geraas Musiektoekennings (GMT ’03).
In 2004 maak Klopjag hul debuut as produksie op die KKNK met hul multi-media produksie “Sestien stawe op my spoor”. Hulle doen ook hul eerste internasionale optredes tydens die Ukkasie Kunstefees in Londen, Engeland. Die media begin ook gedurende 2004 ernstig belangstel in Klopjag en artikels oor hulle verskyn in Huisgenoot, Beeld, Die Burger en Die Volksblad.
Hulle verskyn ook gereeld op televisie op onder andere Kwêla, JIP, Gons (KykNet), Pitstop en Belboks (SABC 2). Die tweede album “15de laan” word in Mei 2004 vrygestel. Hul video van “15de laan” en “Die storie van Piet Vermaak” spandeer 11 weke op die Pitstop Top 5 Videos en vier weke daarvan in die nommer een posisie.
“15de laan” word benoem in drie kategorië tydens die GMT ’04. Klopjag se sukses in hierdie kort tydperk word grootliks toegeskryf aan hul oorspronklikheid, goeie lirieke en aanpasbaarheid wat hulle instaat stel om gehore van enige ouderdom waarde vir hul geld te gee. Gaan maak dus ‘n draai by vanjaar se Landbouskou en sien self waarom Klopjag die musiekbedryf aan die praat het.