Gholfnuus
THABAZIMBI – Die ligabyeenkoms wat verlede Saterdag deur die Veterane op Thabazimbi aangebied is, het goed afgeloop. Ongelukkig kon Brits nie deelneem nie, wat goeie nuus vir die Veterane was wat by verstek wen. Thabazimbi se span reken ook met Rooiberg af en is nou tweede na Mogol. Die wenners, met 46 punte, N Haarhoff en J Lubbe was van Mogol. R de Lange en J du Plessis (45) en F Jacobs en H Smit (44) was die ander wenners. Louis se Deegverrassings het weer die verversings die oggend en die middag verskaf.
Die volgende ligabyeenkoms is op Lost City en wel op Sondag 31 Julie. Dit is gewoonlik ‘n baie populêre byeenkoms en daar sal veral streng by die Veterane se spelerkeuse gehou word.
Vrydag 24 Junie is dit weer Interaksie en Saterdag 25 Junie is dit die “Foursomes” kampioenskappe oor 27 putjies. Spelers moet asseblief in pare inskryf.
Die Hoërskool se borgdag wat op Saterdag 2 Julie sou plaasvind moes ook as gevolg van die vakansie uitgestel word. ‘n Nuwe datum sal so gou moontlik aangekondig word.
Lede moet asseblief nou al kennis neem van die Algemene Jaarvergadering wat vroeg in Augustus gehou gaan word. Daar is reeds ‘n kennisgewing op en enige sake wat u op die agenda geplaas wil hê moet die Sekretaris betyds bereik.
Op Saterdag 23 Julie gaan die baan weer gesluit wees. Die Limpopo Dames Geslote kampioenskappe oor 36 putjies word die dag op ons baan gespeel. Dit is ‘n groot voorreg vir Thabazimbi om so ‘n belangrike dag aan te bied en die van u wat nie kan speel nie, kan gerus die dag as toeskouer op die baan wees.
Ons braaiplek is nou klaar en dit lyk sommer spoggerig. Baie dankie dokter Willem vir die harde werk. Ons gaan nog sommer lekker daar kuier.
Science Of Sport – Golf
Great Golf Courses Of Southern Africa
Golf: Greatest Ever Moments