General

Ellisras Bosveldfees om die draai

ELLISRAS – Dit is nog net twee weke voor die Ellisras Bosveldfees wat van 6 tot 9 Julie plaasvind. Die Beesskou beloof om ‘n rekord getal skou beeste byeen te bring met Wit en Rooi Brahmane, Simmentalers, Simbras, Limousins en Afrikaners wat vertoon en geskou gaan word. Melkbokke en dorperskape sal ook vertoon word.
Die veeafdeling bied hierdie jaar ook ‘n mini-plaaswerf met pluimvee. Hier kan ook gesien word hoe koeie gemelk en room na botter verwerk word. ‘n Gebakte brood uit ‘n bakkersoond is ook nie te versmaai nie.
Die ‘Wildlife and Hunting Symposium’ vind Woensdag 6 Julie plaas en aansoeke om dit by te woon sluit reeds 4 Julie om 17:00. Inskrywingsgelde sal ‘n ete insluit.
Met die wildsbilton-g en droëworskompetisie op Woensdag 6 Julie, kan deelnemers in twee kategorië deelneem, naamlik: slaghuise en nie-winsgewende persone. Beoordeling vind later dieselfde dag plaas.
Die Bosveld Potjiekoskompetisie vind Saterdag 9 Julie plaas en beoordeling sluit in: oorspronklikheid van stalletjie, algehele indruk van deelnemers, doeltreffendheid van toerusting en gereedskap, veiligheidsmaatreëls, keurigheid en aantreklikheid van aanbieding, voorbereiding en hantering van voedsel, fynproe ensovoorts.
Die wildsveiling wat ook Saterdag aangebied word, sal rooibokke, koedoes, elande, gemsbokke, rooi hartbeeste, blou wildebeeste, blesbokke, volstruise, zebra’s, waterbokke, buffels, renosters, swartwitpense, njala’s en kameelperde insluit.
Die 4×4 kompetisie se inskrywings vind ook Saterdag plaas en beloof vir groot opwinding. Deelnemers en toeskouers kan groot pryse losslaan tydens die kompetisie. Vir meer besonderhede oor die 4×4 kompetisie, kan Francois Pretorius gekontak word by 082 599 2199
By die biertuin kan jy en vriende saans om die kampvure kuier tot laat. Daar word ook ‘n bier-drink kompetisie aangebied tussen Ellisras en Pietersburg. Kom geniet hierdie fees en warm op teen die koue. Vir meer inligting kan Susan Eckard gekontak word by (014) 763 2399.