Agricultural

Die impak van vuur in droë weivelddele

Reeds vir baie eeue is die brand van veld ‘n onderwerp waaroor daar baie geargumenteer word en nog gaan word. Die probleem is dat die werklike uitwerking of trefkrag daarvan op die weiding-ekosisteem ‘n seisoen of twee daarna eers werklik waargeneem word.
In die hoër reënvaldele vorm brand dikwels deel van die volhoubare benutting van die weiding-ekosisteem. Hierteenoor werk onbeplande brande dikwels grootskaalse risikobestuur in die droër dele in die hand. Dit is juis in hierdie dele waar boere onkundig staan teenoor die werklike omvang van produksieverliese waarmee ‘n vuur gepaard gaan.
Die klimaatstoestande wat tydens die brand geheers het en na die brand gaan heers, is van die bepalende faktore vir die werklike invloed van die vuur op die plante. Die reënval in die droër dele is wisselvallig en daar kan nie op betroubare lentereëns staatgemaak word nie – nog minder op gereelde opvolgreënval gedurende die lente. Veral na goeie reënval is boere geneig om selfs in die droër dele brand as ‘n bestuursmaatreël te oorweeg.
‘n Baie belangrike beginsel is dat daar nooit gepoog moet word om die gevolge van swak weiveldbestuur met vuur reg te stel nie. Brand kan wel ‘n nuttige doel dien om van indringerbosse ontslae te raak of om baie ou opgehoopte materiaal te verwyder, indien dit noodsaaklik blyk te wees. Laasgenoemde is by uitsondering ‘n probleem in die droër dele. Buitendien word die veld in hierdie dele redelik goed benut in die winter sodat brand geensins aanbeveel kan word nie.
Wanneer ongeluksvure of onbeplande brande wel ‘n boer in die droër dele tref, word daar dikwels slegs van vorige ondervinding gebruik gemaak in die voervloeibeplanning wat vir hom voorlê. Hierdie kennis is meestal nie wetenskaplik gefundeer nie en het geweldige ekologiese probleme tot gevolg. Om veldverbetering te bewerkstellig en in die proses die regte besluite te kan neem, is deeglike kennis van selfs die ondergrondse groei en ontwikkeling van die weiplant van kardinale belang. Die wortelstelsel vorm die ratwerk vir volhoubare benutting van die weiding-ekosisteem. In die verlede is hoofsaaklik aandag geskenk aan die bogrondse dele as maatstaf vir produktiwiteit van die ekosisteem, terwyl die wortelproduksie nie die aandag wat dit verdien, geniet het nie. ‘n Veel groter probleem is die gebrek aan kennis oor die invloed wat brand op die wortelgroei van weiveld in veral die droër dele mag hê.
‘n Eenvoudige bestuursbeginsel is dat die manier waarop weiveld rus, baie belangriker is as die manier waarop dit benut word. Na ‘n brand behoort daarna gestreef te word om die weiding-ekosisteem so gou moontlik weer optimaal te laat funksioneer. Dit kan alleen geskied indien die veld in die droër weivelddele voldoende rus ontvang ten einde die verlaagde plantbedekking weens die brand weer te laat herstel. Die digter plantbedekking en beter beskerming van die grond teen die aanslae van die natuurelemente sal bydra tot ‘n beter grondwaterbalans en gevolglik die opheffing van die mensgemaakte droogtes.
Gebrande veld toon gewoonlik eerste sigbare tekens van verwelking voordat daar nog enigsins sprake is van ‘n klimatologiese droogte. Die droogterisiko van ‘n plant met ‘n swak verspreide wortelstelsel is veral in die droër gebiede besonder hoog. Hierdie aspek word nog vererger wanneer die veld gebrand het en daarom is die inbou van ‘n lang genoeg rusperiode vir die herstel van gebrande veld baie belangrik vir volhoubare benutting van die weiding-ekosisteem.
Veld in die droër weivelddele produseer oor die eerste groeiseisoen na ‘n brand slegs die helfte van die produksie as die verkry vanaf nie-gebrande veld. Dit neem ‘n volle twee groeiseisoene vir sulke gebrande veld om weer in produksie in te haal by veld wat nie gebrand het nie. Die navorsings resultate waar gebrande veld ook bewei is, toon verder dat ‘n rusperiode van ten minste die volle groeiseisoen na ‘n brand onder normale en bo normale reënval jare aanbeveel word vir herstel van beide bo- en ondergrondse dele.
Die eerste beweiding kan in die winter geskied, terwyl ‘n verdere onttrekking van diere oorweeg moet word vir die eerste helfte (lente) van die tweede seisoen na die brand indien ondernormale reënval sou voorkom. Hoe vroeër die veld na ‘n brand bewei sou word, hoe groter die nadelige oordrag effekte daarvan na ‘n daaropvolgende seisoen.
Dit is wel nie altyd uitvoerbaar of prakties moontlik om diere totaal van gebrande velde te onttrek nie, maar bogenoemde resultate is die realiteite betreffende die impak van brand saam met beweiding vir die droër weivelddele van ons land. Ten einde vinnige herstel en volhoubare produksie vanaf die weiding-ekosisteem in hierdie dele te help verseker, sal die invloed van ‘n brand wel deeglik verreken moet word.
Bron: Senwes (Prof. Hennie Snyman).