Bosveldstreek weereens wenner by VLU-Noord kongres
VLU-Noord – Die VLU-Noord kongres het op 25 en 26 Mei te Weesgerus plaasgevind en Bosveldstreek, wat uit 12 takke bestaan, het weereens stof in die ander twee streke se oë geskop.
Die welgeklede dames van die Bosveld-, Soetdoring- en Koraalstreke, wat strek vanaf Northam, Swartwater en Musina tot Witrivier en Klasserie, het vroeg-vroeg al geregistreer en hulself tuisgemaak in die netjiese chalets.
Die VLU-Noord vier hierdie jaar hul 10de bestaansjaar en na die opening en verwelkoming is ‘n kort huldeblyk aan hulle gebring vir hierdie besonderse mylpaal.
Gelukwense en groeteboodskappe is oorgedra vanaf verskeie organisasies.
Die suksesvolle aandfunksie is met Mia Otto se sang opgedra aan Mimi Coertse, hul kunstenaar van die jaar.
Die hoogtepunt van die kongres was natuurlik die prysuitdeling. Die Bosveldstreek se uitslae is as volg:
Riana Peacock van Steenbokpan deel die trofee vir haar puik skakelwerk.
Borduurwerk – Tudorhuis: Bettie Pistorius. Masjienwerk- Damesbaadjie: Annalize Maritz van Ellisras (derdeplek) en Wilma van der Merwe van Bulgerivier (tweedeplek).
Fotografie: Riana van der Merwe (derdeplek) en Wilma van der Merwe (tweedeplek). Albei is van Bulgerivier.
Handbreiwerk: Nelie Maré van Vaalwater (tweedeplek).
Hekel: Bertie van Vuuren van Alma (tweedeplek).
Preservering: Ilana Venter (Steenbokpan) deel die tweedeplek met Annalize Maritz van Ellisras.
Klein koekies: Bettie Pistorius (eersteplek).
Kortverhale: Drie lede van Bosveldstreek verower onderskeidelik die eerste-, tweede- en derdeplek.
Trofee vir die lid met die hoogste totaal: Wilma van der Merwe van Bulgerivier.
Bosveldstreek spog met die hoogste totaal asook die meeste inskrywings.
Tannie Marie Putter van Alma word vereer met ‘n 40jaar lidmaatskap knopie. Sy is veral bekend vir haar heerlike koeksisters en het in haar tyd al baie kompetisies gewen.
Met nuut gesmeede vriendskapsbande en ‘n suksesvolle kongres agter die rug, kon die dames huiswaarts keer met nuwe motivering vir die res van die jaar.