Sport

Thaba wen Northam Plats se Rhinos

Jan Engelbrecht

THABAZIMBI – Thabazimbi se eerste rugbyspan maak nou ‘n gewoonte daarvan om hulle wedstryde eers in die tweede helfte te beklink. Dit is al asof hulle in die eerste helfte net aanploeter om deur nog ‘n wedstryd te kom.
Om niks van Northam Plats weg te vat nie moet ‘n mens darem sê dat Northam die eerste helfte die wêreld vir Thaba warm gemaak het. Dit was ‘n baie gelykop eerste helfte en die Rhinos het alles gegee wat hulle gehad het. Thaba se groter fiksheid het aan die einde die deurslag gegee en hulle kon met 33-12 wen nadat hulle halftyd met 14-12 voorgeloop het. Piet Engelbrecht was die man van die wedstryd en hy speel huidig van die beste rugby van sy lewe. Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Hannes de Villiers (2), Nico Du Plessis, Nico Greeff en Rudi Grobler. Cobus Snyman slaag met vier doelskoppe.
Die tweedespan is tans in ‘n klas van sy eie en hulle sal moeilik geklop word in die wedloop om as wenner van die Waterbergliga gekroon te word. Die span speel soos ‘n eenheid en hulle geniet die spel wat dit ook lekker maak om hulle dop te hou as hulle speel. Rudi Grobler was die man van die wedstryd en hy speel amper die rugby wat hom op ‘n stadium een van die beste binnesenters in die streek gemaak het. Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Conrad De Neysen (2), Rudi Grobler(2), Reggie Zanendaba en Awie Jacobs. Rudi Grobler slaag met vier doelskoppe.
Hierdie Vrydag speel Thaba teen Vaalwater op Vaalwater se tuisveld en dit beloof vonke. As jy van klubrugby hou, gaan ondersteun hulle gerus.