Taakspan lê beslag op verdagte voertuig
THABAZIMBI – Die Thabazimbi taakspan het verlede Vrydagoggend om 02:00 inligting van Thaba Alarms ontvang van ‘n verdagte voertuig in die dorp. Die taakspan is ontplooi en by nadere ondersoek is vasgestel dat die voertuig ongelisensieerd is.
Die verdagte persoon in die voertuig het na bewering inligting aan die taakspan verskaf wat gelei het tot twee arrestasies. Vrydagaand is ‘n derde verdagte in Motlakeng, Randfontein, deur die Thabazimbi speurtak gearresteer.
Daar is onder andere beslag gelê op motorvoertuig parte. Die speurders is besig met verdere ondersoeke om die moontlike verbintenis tussen die parte en voertuie, wat in die Thabazimbi omgewing gesteel is, te bepaal.
Sake van poging tot motorvoertuigdiefstal, huisbraak en opsetlike saakbeskading is geopen en word ondersoek. ‘n Vierde verdagte is nog op vrye voet en nog arrestasies word binnekort verwag.
Die polisie, taakspan en speurders het die inligting verwelkom na die vlaag misdade wat die afgelope ruk Thabazimbi teister. Persone wat enige verdagte voertuie of verdagte persone opmerk, kan die polisie kontak by (014) 777 3500 of die speurtak by 014) 777 3535.