General

Slegte biltong koeël se skuld

Baie biltongmakers moes al die skuld dra vir slegte biltong, maar volgens Willem Odendaal se artikel oor die impaksnelheid van ‘n koeël, Landbouweekblad, is die eintlike sondaar ‘n haastige koeël.
Die ballistiese omgewing waarbinne bosveldkoeëls gebruik word, word deur kort afstande oorheers. Magnum-koeëls trek ná 100 meter nog só vinnig dat hulle meer probleme as oplossings bied.
Biltongjagters en vinnige koeëls is nie vriende nie. Hoe hoër die impaksnelheid, hoe hoër is die tempo van energie-oordrag van die koeël na die waterryke vleisweefsel, hoe erger is die hidrodinamiese skok en hoe meer die skade aan die vleis.
Dit gaan hier nie net oor die vleisweefsel wat flenters geskiet word en nie vir wors- en biltongvleis geskik is nie, dit gaan oor koeëls wat te vinnig tref en groot, oppervlakkige wonde veroorsaak. Bokke wat só gekwes word, hardloop soms vir ure aaneen terwyl baie melksuur in die spierweefsel vorm. Die skok veroorsaak ook dat bloedswamme oral tussen die spierweefsel in die liggaam ontstaan.
Hierdie twee faktore kan ‘n hele bok se biltong, plus die wors, ‘n bitter, bloedsmaak gee. Dit help nie om die biltongmaker die skuld vir die slegte biltong te gee nie, die haastige koeël is die sondaar. Iemand kan van goeie bokvleis slegte biltong maak, maar niemand kan van slegte bokvleis lekker biltong maak nie. Vir ‘n biltongjagter is dit swak besigheid om vir ‘n hele bok te betaal as ál die vleis onbruikbaar is.
Forensiese kenners beraam dat 730 m/sek (2400 vt/sek) omtrent die maksimum impaksnelheid vir enige soort jagkoeël is waarteen aanvaarbaar min vleisskade plaasvind. Hoe hoër die impaksnelheid bokant hierdie perk, hoe erger is die vleisskade. Dit is nie net konvensionele koeëls wat vleisvermorsing veroorsaak nie, selfs versterkte koeëls, al breek hulle nie maklik in stukke op nie, vermors vleis.
Die oplossing vir die probleem lê daarin om ammunisie te gebruik wat koeëls met betreklik min energie, maar baie momentum vuur. Die noue verhouding tussen die energie en die momentum van die projektiel wat deur ‘n grootkaliberhandwapen of deur ‘n boog gelanseer word, maak dit moontlik om oor kort afstande daarmee te jag. Die Thompson Contender, met ‘n swaar, ‘stadige’ koeël, kan ‘n blesbok tot op 70 meter doodskiet. Die regte pyl uit ‘n goeie jagboog kan ‘n rooibok op 40 meter plattrek.
In die bos is dit weens die anatomie van die dier (horings van ‘n buffel) of obstruksies, soos takke en blare wat in die pad kan wees, dikwels onmoontlik om ‘n kopskoot te skiet en ‘n eersteskoot-doodskoot te verseker.
Bosveld-ammunisie moet dus ‘n koeël kan vuur wat die teikendier uit verskillende hoeke kan deurboor.