General

Sektor-polisiëring vir Thabazimbi

THABAZIMBI – Na aanleiding van die reeks inbrake wat plaasgevind het in Uitbreiding 8, het die buurt se inwoners die afgelope Sondag- en Maandagmiddag vergader om ‘n plan te bespreek om die inbrake te probeer beperk.
Kaptein Smit van die SAPD, het tydens die geleentheid inwoners toegespreek en sy bekommernis uitgespreek oor die toename van inbrake wat Thabazimbi deesdae teister. Hy het ook genoem dat vrywilligers kan aansluit as reserviste (klas D) by die SAPD.
Dit kan die tekort aan mannekrag by die SAPD aanspreek en ook verseker dat die gemeenskap meer betrokke raak by die kenmerkende sektor-polisiëring wat tans landswyd in aanvang neem. Hy het die inwoners verder daarop attent gemaak dat die gevaartyd waartydens inbrake hoofsaaklik plaasvind, van 24:00 tot 04:00 soggens is. Thaba Alarms, wat deurlopend die area gepatrolleer het, was ook teenwoordig en het veiligheidsmetodes en -toerusting gedemonstreer.
Die inwoners beplan ‘n buurtbraai waartydens die buurt die aangeleentheid van sektor-polisiëring sal bespreek. Die geleentheid sal ook gebruik word om kommunikasie in die buurt te verbeter en sodoende te verseker dat verdagte beweging in die area beperk word. Belangstellendes kan Jan Jordaan kontak by 082 926 4258 of Marie Jordaan by 083 441 7586.