Nuwe sekretaresse vir Thabazimbi
THABAZIMBI – Die voorsitter van Thabazimbi DLU, Joggie van Bruggen, het Karen Reinecke verwelkom as nuwe sekretaresse op Thabazimbi. Van Bruggen het gesê hy is baie dankbaar dat sy bereid was om die pos te aanvaar. Karen se pa, Magiel Reinecke, is ‘n boer en ook die voorsitter van die Veiligheids Kommoditeit vir die Thabazimbi DLU. Van Bruggen het gesê haar kennis van boerdery en haar noue betrokkenheid by die oorlewingstryd van die boer, maak haar besonder geskik vir die taak. Alhoewel die taak groot en by tye oorweldigend kan wees, het sy bewys dat sy op professionele wyse take aanpak en suksesvol afhandel.
Van Bruggen het gevra dat lede van TLU-SA kennis moet neem dat sy die volgende tye op kantoor sal wees: Maandae tot Woensdae – 14:00 tot 16:00 en Vrydagmiddae – 14:00 tot 15:00. Hy het DLU lede genooi om gereeld ‘n draai in die kantoor te maak en gesê dat groot hoeveelhede belangrike inligting voortdurend deur die kantoor versprei word. Hy het gevra dat alle lede hulle e-pos adresse aan die kantoor sal verskaf om die verspreiding van inligting te vergemaklik.
Van Bruggen het bevestig dat die Streeksekretaresse, Riekie Roets, die Thabazimbi kantoor op Maandag 27 Junie sal besoek. Die besoek sal benut word om die nuwe sekretaresse touwys te maak en haar formeel te verwelkom.