General

Die VLU laat kultuur weer lewe

STEENBOKPAN – Steenbokpan VLU het op 8 Junie hul “Kultuur” vergadering gehou en lede moes iets saambring wat hulle as kultuur beskou. Daar was van ‘n outydse hout bottermaker, ‘n babatruitjie wat oor die 60 jaar oud is (sal nie sê presies hoe oud nie, aangesien dit een van die lede s’n was), ‘n outydse foto en biltong, tot ‘n familiebybel wat dateer uit die 18 de eeu. Lede is laat besef hoe die VLU in kompetisie-artikel inderwaarheid die kultuur weer aanwakker: Deur die jonger lede vaardighede aan te leer om iets te maak waarsonder die nasie van ouds nie klaar kon kom nie. Die meeste VLU lede is plaasvrouens, waarvan baie weens ver afstande nie gereeld in dorpe kon kom nie, en dus sommer gou winkel toe kan ry vir brood of iets wat skielik op geraak het nie. Dan moet daar ‘n plan gemaak word, net soos ons voorsate nie winkels gehad het nie, en alles self moes maak. En dit is weereens waar die groot doel van die VLU inkom, naamlik om opvoedingsgeleenthede vir sy lede te bied. Lede het ook besef, dat dit is wanneer iemand ons kultuur wil wegvat, dat ons dit dan weer wil red, soos byvoorbeeld ons moedertaal in skole ensovoorts.
Die gaste op die vergadering was Antoinette en Alta wat pragtige Argilla-ware kom uitstal het. Die kompetisie-artikels vir die maand was heerlike versierde patatbrood en tamatieblatjang, lede het sommer baie goed gevaar.
Tydens die afgelope VLU-Noord Kongres is Steenbokpan tak se skakelbeampte, Riana Peacock, aangewys as die beste skakel vir die jaar in die provinsie, sy deel die trofee met Hanglip. Ilana Venter se beetblatjang het tweedeplek en Surita Steenkamp se kortverhaal het derdeplek behaal. Dit is baie goeie prestasies en die tak is baie trots op die lede.
Steenbokpan se volgende vergadering vind op 10 Augustus plaas en almal is baie welkom. Kontak gerus vir Elize Jordaan (voorsitter) by (014) 779 0960 of Ilana Venter (sekretaresse) by (014) 779 0608 of Riana Peacock (skakelbeampte) by (014) 766 0229.