Nuwe wending by huisbrake
THABAZIMBI – Die plaaslike speurtak het die publiek tot versigtigheid gemaan na ‘n vlaag huisbrake waarin die verdagtes ‘n nuwe wending ingeslaan het. Verlede week, vanaf 2 Junie tot Saterdag 4 Junie was daar ses huisbrake waarin die verdagtes snags by dié wonings ingebreek het terwyl die inwoners slaap.
Na bewering is daar elektrieseware gesteel en die inbrekers het ‘n voorliefde vir motorsleutels aangesien ses voertuie se sleutels ook gebuit is. Inwoners se honde is vergiftig wat toegang tot die huise vergemaklik het. ‘n Swart Isuzu dubbelkajuit bakkie en ‘n wit Toyota dubbelkajuit bakkie is ook gesteel.
Die inbrake het plaasgevind in Jakaranda-, Acasia-, Vanderbijl- en Diederiksstraat.
In dieselfde tyd is daar helder oordag by ‘n motorvoertuig voor AB Labour Services se kantore ingebreek.
Die speurders sê dat hierdie nie tipiese misdaad vir Thabazimbi is nie en die vermoede bestaan dat die verdagtes van buite die dorpsgrense afkomstig is. Enigiemand met inligting kan die speurtak kontak by (014) 777 3535.